Twee brand erg toe hulle brandstof wou steel

Foto: Verskaf

Twee mans het erge brandwonde opgedoen toe hulle vermoedelik brandstof by die Transnet-pypleiding in die omgewing van Ogies probeer steel het.

Volgens kapt. Dineo Sekgotodi, Valke-woordvoerder, is die twee verdagtes, 28 en 39 jaar oud, Donderdagaand deur veiligheidsbeamptes van Fidelity Security naby Phola in hegtenis geneem.

“Die twee is in hegtenis geneem nadat daar by die Transnet-beheerkamer agtergekom is dat die druk in die pypleiding skielik gedaal het.”

By veiligheidsbeamptes se aankoms op die toneel het een van die mans probeer weghardloop maar hy is voorgekeer. Hy het erge brandwonde oor sy hele lyf opgedoen. “ʼn Brand is in ʼn mielieland daar naby opgemerk en by nadere ondersoek is dit vasgestel dat die vlamme van die pypleiding af kom.”

Die Valke en plaaslike polisie is na die toneel ontbied. Die tweede verdagte, wat ook erge brandwonde opgedoen het, is kort daarna vasgetrek waar hy onder ʼn brug probeer wegkruip het.

Die nooddienste is ontbied en die twee verdagtes is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Daar is op ʼn Mazda-bakkie, ʼn kragopwekker en ander bewysstukke beslag gelê.

Die verdagtes sal binnekort in die Phola-landdroshof verskyn op aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging, beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.