Twee brigadiers vas in ondersoek wat Kinnear gelei het

(Argieffoto)

Twee brigadiers van die SAPD is Woensdag in Gauteng in hegtenis geneem in die voortgesette ondersoek na ʼn bedrogspul met vuurwapenlisensies wat lt.kol. Charl Kinnear, vermoorde bevelvoerder van die  polisie se teenbende-eenheid, gelei het.

“Die brigadiers is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by bedrog, regsverydeling en oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer in talle saakdossiere in Edenvale, Kempton Park en Norwood in Gauteng,” het brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.

Die inhegtenisnemings bring die getal verdagtes in die drie jaar lange ondersoek op 28 te staan. Die ondersoek is deur Kinnear gelei tot hy op 18 September voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet is.

Die arrestasies is gedoen deur sy kollegas by die teenbende-eenheid in samewerking met die polisie se nasionale teenkorrupsie-eenheid.

Altesaam 17 van die verdagtes is polisiebeamptes. Twee van hulle het reeds afgetree en die res is burgerlikes.

“Die ondersoek het drie jaar gelede begin toe dit in November 2017 aan die lig gekom het dat veiligheidsmaatskappye betrokke is by afpersing in die Wes-Kaap wat met vuurwapenaansoeke in Gauteng verband hou,” het Naidoo gesê.

Dit het in Januarie 2018 geblyk dat selfs meer mense op bedrieglike maniere vuurwapenlisensies of tydelike permitte bekom.

“Die ondersoek het gewys dat die aansoeke almal in Gauteng ingedien is en veral by die Edenvale-, Norwood- en Kempton Park-polisiestasie.”

Die ondersoek het ook gelei na ʼn spesifieke vuurwapenhandelaar in Kempton Park, waar diegene wat die stelsel uitgebuit het glo ʼn vuurwapenbevoegdheidstoets sou doen voordat ʼn aansoek vir ʼn lisensie ingedien is.

Kinnear se moord het skokgolwe deur die Wes-Kaap en polisiegeledere gestuur.

Tot dusver is ʼn enkele verdagte vir beweerde betrokkenheid by sy moord aangekeer. Zane Killian is ʼn voormalige beroepsrugbyspeler wat verlede maand in Springs in hegtenis geneem is omdat hy glo Kinnear se selfoon nagespoor het – ook in die tien minute voor hy geskiet is.

Killian word ook daarvan verdink dat hy die selfoon van die vooraanstaande Kaapse prokureur William Booth nagespoor het. Booth het in April vanjaar ʼn skietery by sy huis oorleef.

Verskeie mense is reeds in verband met dié voorval aangekeer en Killian se naam is nou by die klagstaat gevoeg. Hy sal onder meer op ʼn bykomende klag van poging tot moord tereg staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Ekt dit voorheen gese: Die SAPD is inherent verrot . Aanstellings was op kennisbasis en nie op vermoeë gedoen dus kaderaanstellings. Range is soos lekkergoed uitgedeel en het dit goedkoop gemaak.Enigste oplossing om aansien te herwin is ‘n totale herstruktuering en herevaluassie van ELKE senior en ander poste. ‘n Skoonmaakproses van bo tot onder is al wat gaan werk. Sien ons geagte president nie die goed raak? Diselfde van toepassing op SAW.

Kokerboom ·

Die tragiese deel is dat die lojale, goeie(en daar is baie!) polisielede swaar ly onder die verwoestende effek van die ANC se kaderaanstellings

Misky ·

Hierdie hele ding gaan baaaaie dieper as wat ons besef. Ek dink n paar van daai “hoë” manne slaap maar sleg saans en enige dag kan hul skandes op die lappe kom…..

Mad Mike die Rhodesiër ·

Oulike storie. Bedrog en korrupsie is orals. Dis soos ‘n virus wat jou nie wil los nie…

Delia ·

Ons is ja..met reg bekommerd oor die covid virus en ons word met getalle heeldag gebombardeer wat ons angsvlakke onnodig verhoog.
Die regering spandeer baie geld..met reg.
Maar die korrupsie virus is n groter bedreiging. AGV korrupte beamptes wonder ek maar net of die impak van die virus nie n veel groter impsk op ons samelewing het nie.
Maar ja, hoe kweek mens integriteit by mense as dit net nie daar is nie.

Kokkie ·

Oor twee weke sal daar reeds SES maande verloop het sedert ek my aansoeke om hernuwing van my vuurwapenlisensies ingedien het. Maar hulle vind tyd om vals lisensies uit te reik. Dit maak my SIEK.

Aai ·

Dit is hoekom die misdaad floreer want as die grootkoppe tyd spandeur om korrup te wees en geld te maak hoe gaan hulle die ander opdragte gee en kyk dat hulle misdaad bekamp.Sluit toe asseblief.Ek is uit die SAPD oor my Colonel goed onder die tafel gedoen het en nie moes doen waarvoor hy betaal was.

ES ·

Wat my die al hoe meer bly maak is dat dit lyk asof korrupsie en bedrog onlangs al hoe meer oopgevlek word en al hoe meer mense uitgevang en vervolg.

Dis dalk nie almal wat korrup is nie, maar daar is klein treetjies vorentoe. Net jammer die politieke hoës word nie vervolg nie…

Casper ·

Nou wonder ek.Ek het die Griekwastad moordenaar reg voorspel deur na die omstandighede te kyk So ook met Henri van Breda so ook die Stella moordenaar.Ek her ook die brigadiere genoem wat betrokke was by korrupsie wat deur kol. Kinnear ondersoek is.Ek verstout my deur te voorspel dat Killian ‘n huurmoordenaar is.

Hennie J ·

Stroop hulle dadelik van hul range tot tyd en wyl die saak teen hulle afgehandel is. n Skande .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.