Twee Britte vas nadat hulle land onwettig binnekom

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee Britte is Sondag in ʼn gastehuis in Umbilo in Glenmore in KwaZulu-Natal vasgetrek nadat hulle Suid-Afrika glo onwettig binnegekom het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê lede van die voertuigmisdaad-eenheid het op die gastehuis toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het oor dié twee Britte, onderskeidelik 24 en 33 jaar oud, wat die land onwettig betree het.

“Die twee verdagtes het Saterdag die land deur die grens van Swaziland binnegekom. Hulle is by die Golela-grenspos voorgekeer waar hulle toegang geweier is. Hulle was aangesê om om te draai en terug te keer na Swaziland toe,” sê Naidoo.

Die verdagtes het egter dié bevel verontagsaam en teen ʼn vinnige spoed deur die grenspos gejaag. Die polisie het hulle agternagesit.

Naidoo sê toe die twee verdagtes vasgetrek is, was hulle ook in besit van ʼn gehuurde voertuig, waarop die polisie beslag gelê het.

Die 42-jarige bestuurder van die gastehuis is saam met hulle in hegtenis geneem vir die oortreding van die afsonderingsregulasies.

Naidoo sê die departement van gesondheid het die verdagtes ondersoek om te bepaal of hulle moontlik met Covid-19 besmet is.

Volgens Naidoo ondersoek die polisie die saak om vas te stel of verdere aanklagte die verdagtes in die gesig staar. Die verdagtes het glo nie die huurmaatskappy betaal vir die voortgesette gebruik van die voertuig nie. Hulle word ook aangekla van die moontlike oortreding van die immigrasiewet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael 1

Hierdie is skreeusnaaks as in ag geneem hoeveel zimbabwiërs kom oor die grens onwettig en wat doen die regering, sit n nuwe heining op vir miljoene rand wat al klaar gebreek is .

PieterP

Nou waar kom die Swazilanders en Mosambiekers vandaan wat steeds kom inkopies doen in die Laeveld. Hoeveel van hulle plus Zimbabwiërs is daagliks te siene by binnelandse sake waar hulle tot daar onwettig gevorder het en maar in die tou kan staan. Die twee moes maar weer op die bis gelaai word en terug gestuur geword het Swaziland toe sonder hulle bagasie. Sou hulle leer