Twee by OR Tambo aangekeer met R5 miljoen se renosterhoring

Argieffoto

Twee persone is by OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat doeanebeamptes twee sakke met 10 renosterhorings met ʼn geraamde waarde van R4,99 miljoen onderskep het.

Sandile Memela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, het Maandag gesê die beamptes het Sondag beslag gelê op die renosterhorings wat 24,96 kg weeg.

“Doeanebeamptes het ondersoek ingestel oor ʼn verdagte sak wat hulle gelei het na ʼn tweede sak wat afgelaai is uit die vrag van ʼn vliegtuig onderweg na Turkye. Die inhoud is deursoek en daar was vier renosterhorings in een van die sakke en ses in die tweede sak,” het Memela verduidelik.

“Twee passasiers en hul bagasie is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens oorgegee vir verdere ondersoek. Die SAID bedank die doeanebeamptes vir hul fokus, dissipline en harde werk. Ons is baie trots op die toewyding van doeanebeamptes om te verhoed dat onwettige dwelmmiddels en ander goedere die land binnekom of verlaat.”

Hy het gesê die SAID sal steeds met alle belanghebbendes op alle grensposte saamwerk om die land en sy burgers te beskerm teen georganiseerde misdaad.

Die twee persone sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sjoe! ·

Sjoe! Laat ek sommetjie maak:
Dis R500 000 per horing (renoster) oftewel R200 000 per kg.
Ek kan dit nie glo nie. Het ek reg uitgewerk?
Geen wonder dat renosters so gestroop word. Dan is daar ook nog leeus, olifante ens. Dit alles oor ‘n siek oosterse geloof van muti.

humor ·

Kan die SAP in waarheid en sekerheid vir ons inlig wat word van al die gekonfiskeerde renosterhorings en dwelmmiddels asook vuurwapens.

Wouter ·

Daar is nog 4 smokkelaars in Honkong gevang toe hulle van OR Thambo soontoe gevlieg het. Wonder net hoe het hulle deur ons grensposte gekom met die horings? Dalk n inside job of van hoog bo af?

Houtoog ·

Wat beteken ‘ges6e’ (par.2)? Kan iemand vir my uitwerk wat is die prys R/renoster of R/kg?

Janie Monsieur ·

Dagsê Houtoog,
Dakie vir jou kommentaar. Lyk my jy kan jou naam van ‘houtoog’ na ‘valkoog’ verander! Dankie dat jy ons op die fout gewys het, die berig is gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Houtoog ·

Janie, NOU soek ek moeilikheid met jou want in jou antwoord gebruik jy ‘dakie’ i.p.v. ‘dankie’. Alles met ‘n tikkie (hu)mor . . .
Groetnis.

Janie Monsieur ·

Dagsê Houtoog,
Ai, daar vang jy my weer uit. My vingers wil te vinnig tik!

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Houtoog ·

Janie, dis die probleem met intelligente mense, die vingers bly agter met skryf- en tikwerk. Ek het (gelukkig?) nie daardie probleem . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.