Die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Kameeldrift-Wes net buite Pretoria het hulle hande vol met gewapende aanvallers wat inwoners in die gebied bly teister.
Nico van Vuuren, voorsitter van die GPF in Kameeldrift-Wes, sê daar was altesaam vyf plaasaanvalle in ʼn tydperk van slegs drie weke – waarvan die jongste twee die afgelope naweek plaasgevind het. Maroela Media het vroeër berig plaasaanvalle in dié omgewing is haas buite beheer en die situasie word nie beter nie.
“Ons het dié naweek twee plaasaanvalle in twee dae beleef,” sê Van Vuuren.
“ʼn Ouerpaar van twee is Saterdagaand deur drie gewapende rowers oorval, vasgebind en van hul besittings beroof. Skaars 24 uur later is nóg ʼn egpaar by hul huis ernstig aangeval en beroof.”
Van Vuuren sê lede van die Groenlig-gemeenskapsprojek was Saterdagaand besig om spoor te sny en dat die spore hulle na ʼn huis op ʼn kleinhoewe in Rouxstraat gelei het. Die inwoners van die kleinhoewe, ʼn gesin van vier, was glo nie tuis nie. Die honde in die buurt het kwaai geblaf waarna die Groenlig-beampte die GPF ingelig het.
“Ons het omstreeks 00:11 ʼn oproep van die Groenlig-beampte ontvang en die gesin dadelik gebel om hulle in kennis te stel dat daar verdagte aktiwiteit by hul huis is. Die gesin was egter nie tuis nie, waarna ons onmiddellik reaksielede na die huis ontbied het om verdere ondersoek in te stel.”
Die Stander-gesin – wat daar woon – het egter intussen huis toe gejaag om self ondersoek in te stel. Hulle het glo dadelik opgemerk dat hul voordeur oopstaan. Die GPF-lede was nog nie in daardie stadium teenwoordig nie.
“Die ouerpaar het vir hul kinders gevra om in die voertuig te bly terwyl hulle die huis in is. Hulle is oomblikke later deur drie gewapende verdagtes oorval en vasgebind. Een van die verdagtes het selfs ʼn skoot in die ma se rigting afgevuur, maar die vuurwapen het gestoor,” sê Van Vuuren.
Die verdagtes het glo daarna die kluis se sleutels van die man en vrou geëis waarna hulle ʼn vuurwapen met ammunisie, sowel as skootrekenaars, selfone en ander elektroniese toerusting in die huis gebuit het.
“Die verdagtes het oomblikke later op die vlug geslaan. Die GPF was ongeveer tien minute later op die toneel. Almal het saamgewerk om die boewe te probeer vastrek en die gesteelde items terug te vind, maar ons het die verdagtes se spoor by die spruit net anderkant die kleinhoewe verloor,” sê Van Vuuren.
Nog ʼn aanval minder as 24 uur later
Skaars 24 uur later is ʼn egpaar by hul huis op ʼn kleinhoewe in dieselfde omgewing aangeval en ook beroof.
Renier (67) en Estelle (63) van der Westhuizen het Sondagaand pas van ʼn winkel teruggekeer toe hulle deur ʼn groep gewapende rowers aangeval en beroof is.
Letitia Meyer, die egpaar se skoondogter, sê haar skoonouers was net voor 20:00 tuis en dat hulle vermoed dat die gewapende rowers (glo ook drie mans) hulle onder die afdak – waar die voertuie staan – ingewag het.
“Dit is baie donker daar, ʼn mens kan niks sien nie en die hekke was nog nie gesluit nie. My skoonma [Estelle] was al besig om broodjies te maak en my skoonpa [Renier] het gou uitgegaan om die kat se sandbak in te bring. Toe hy omdraai om die huis weer binne te gaan, is ʼn skoot skielik op hom gevuur.”
Die skoot was mis en die aanvallers het hom oorrompel.
“Die gewapende mans het my skoonpa met ʼn swaar voorwerp geslaan en platgetrek. My skoonma het in daardie stadium aangehardloop gekom nadat sy die skoot gehoor het, waarna die boewe haar ook aangerand en die kluis se sleutels geëis het.”
Estelle is glo herhaaldelik in haar gesig geslaan. Volgens Meyer het die verdagtes ook presies geweet wat in die kluis gehou word, onder meer vuurwapens.
“In die proses om te kry wat hulle wil hê het hulle my skoonpa met ʼn panga bygedam. Hierdie mense was lus om dood te maak. Hy moes die heeltyd met sy arm probeer keer. Hy het ongelooflik seer gekry,” sê sy.
Die boewe het glo daarna ook die sleutels van die egpaar se voertuie – ʼn ou Toyota Hilux-bakkie en ʼn Volkswagen Polo – geëis.
“My skoonma het die boewe gesmeek om nie haar Kia te vat nie omdat sy hom nodig het om werk toe te gaan, maar verder het hulle die hele huis omgekeer. Hulle het die wapens uit die kluis gesteel, hulle het die TV’s gesteel, hulle het die kringtelevisiekameras se hardeskyf uitgebreek en gesteel en ook al die drade geknip.”
Daarna het die aanvallers vir Renier en Estelle in ʼn rondawel op die erf ingeboender waar Corrie (68), Estelle se broer, woon. Veelvuldige sklerose is by hom gediagnoseer en kan volgens Meyer nie maklik staan of loop nie.
“Die aanvallers het in ʼn stadium vir oom Corrie in die huis ingesleep, maar hom later weer op sy bed gaan neersit toe hulle besef dat hy nie vir hulle ʼn bedreiging inhou nie. Hulle het my skoonouers in die rondawel vasgebind en vir hulle gesê as hulle voor 05:00 die volgende oggend enigiets probeer, hulle doodgeskiet sal word.”
Meyer sê Estelle was in die badkamer aan ʼn reling vasgemaak en kon losruk en na Renier rol waarna hy die tou met sy tande losgebyt het. Sy het Renier losgemaak, hulp ontbied en dadelik met haar man na ʼn hospitaal gejaag.
Renier is in die Eugène Marais-hospitaal opgeneem en sou waarskynlik Maandagmiddag weer ʼn operasie ondergaan het.
“Sy arm lyk baie sleg; hy gaan nog heelwat operasies moet ondergaan. Die ligamente is af, gelukkig het hulle nie die hoofslagare raakgekap nie, maar hy het baie bloed verloor.
Wat gaan polisie doen?
Inwoners in die omgewing is raadop oor die gewelddadige aanvalle wat byna weekliks plaasvind.
Bianca Burger, skakelbeampte van die Groenlig-gemeenskapsprojek, sê hulle het talle vrae vir die polisie.
“Ons het dringend antwoorde nodig. Beamptes van die Groenlig-gemeenskapsprojek stel daaglik hul lewens in gevaar om die gebied te patrolleer en om as nodige bystand in noodgevalle in te tree. Wat gaan die polisie doen om ons met die bekamping van hierdie wrede aanvalle te help? Wat is hul plan of oplossing om dié misdade te help voorkom?
“Gaan patrollies in die area verskerp word? Wat is die polisie se plan? Ons doen alles in ons vermoë om te verhoed dat mense seerkry in samewerking met die GPF wat dieselfde doen,” sê Burger.
Van Vuuren sê die gemeenskap is keelvol.
“Ons het wel gereël dat die polisie se hommeltuig-afdeling vanmiddag lugfoto’s neem van die omgewing om te kyk of ons dalk iets kan sien wat vir ons meer leidrade oor die rowers kan gee.
“Die nuwe stasiebevelvoerder sal ook van Dinsdagaand ʼn aangewese voertuig verskaf om te help met patrollies en ons gaan Woensdagaand ʼn noodvergadering met die gemeenskap hou oor hul veiligheid en hoe hulle in noodgevalle moet optree,” sê Van Vuuren.
Jy gaan nie in die huis in nie, vernaam as jy nie n wapen het nie, want die kinders is ook in gevaar gestel, wag eerder op n veilige afstand tot hulp opdaag
So word onskuldiges deur gewetenlose boewe geterroriseer.Dit is sekerlik tyd dat gemeenskappe opstaan en hulself beskerm.Dit is duidelik dat die SAPD dit nie meer kan of wil doen nie.Die land se nuutste misdaadsyfers bevestig dat misdadigers die land beheer.
Verdagtes….watwou, opgeleide terroriste, hanskoene en al, nie eers bang vir herkenning nie, geen maskers.
Ek stem 100%. Daardie manne is goed opgelei. Dalk deel van die CIT opgeleide manne. Dit is tragies dat hulle nie aangekeer kan word na soveel aanvalle op weerlose mense nie.
Ek neem aan die gebrek aan kommentaar op die artikel is omdat mense net te gewalg is. Die meerderheid val die weerlose minderheid aan, en die Regering voel niks, zero! Hulle is te besig om te probeer shine vang in die Midde Ooste en te “heerlik” te vreet op belastingbetalers se geld, kyk hoe ondervoed is die regering van die dag!!!
Ek kry die mense daar baie jammer, maar ai mense, waar is jul wapens en tralies en alarms wat beweging op erf aandui of iets. Ek weet dit kos geld, maar verkoop dan maar die ou hilux . Jou lewe is meer werd. Al hoe die manne afgeskrik word is as hul begin koes vir geweerskote.
Die skelms dra nie eers meer klapmusse nie.
En wat doen die minister van polisie? Hierdie kriminaliteit kom nou al etlike jare al aan en ek sien einde met só ‘n treurige polisiemag nie.