Twee dolfyne by Langebaan gered

Argieffoto Foto: albergo.co.za

Argieffoto Foto: albergo.co.za

Twee dolfyne is Sondag by die Langebaan-strandmeer in die Wes-Kaap gered nadat hulle gestrand het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Maandag gesê.

“ʼn Volwasse dolfynkoei en haar kalf het Sondagmiddag in vlak water in die kanaal gestrand,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “Dit is nie duidelik hoe die twee dolfyne in dié gedeelte van die kanaal beland het nie. Hulle kon, weens die lae gety, nie weer uit die kanaal kom nie.”

Volgens Lambinon was daar ʼn hele aantal vlieër-branderplankryers in die gebied en hulle het die voorval aangemeld. “Die twee dolfyne is op traumaborde vasgemaak en op ʼn seereddingsvaartuig gelaai. Hulle is teruggeneem na die see en naby aan Jutton-eiland vrygelaat,” het hy gesê.

Dit wil voorkom of die twee dolfyne gesond was en die NSRI is vol vertroue dat hulle die voorval oorleef het. Hulle was in ʼn goeie toestand toe hulle weggeswem het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.