Twee dolfyne spoel by Jeffreysbaai uit

Die dolfyn wat op Kabeljous-strand in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap uitgespoel het. Foto: NSRI

Die dolfyn wat op Kabeljous-strand in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap uitgespoel het. Foto: NSRI

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Sondag na twee gevalle ontbied waar ʼn dolfyn op ʼn strand in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap uitgespoel het.

Ernie Schmidt, die NSRI se adjunk-stasiebevelvoerder in Jeffreysbaai, vertel dat die eerste dolfyn omstreeks 07:50 op die hoofstrand uitgespoel het. Die NSRI is deur die lewensredders aan diens ontbied.

Schmidt het saam met sy vrou, Elaine, wat ook ʼn NSRI-bemanningslid is, na die toneel gehaas. Elaine het opleiding op seediere wat uitspoel te hanteer. “By ons aankoms op die toneel is ons meegedeel dat die dolfyn verskeie kere terug in die see geplaas is, maar dat dit aanhou uitspoel het. Teen die tyd wat ons daar aangekom het, het dit nie weer uitgespoel nie. Die dolfyn was glo ʼn jong stompneusdolfyn,” het Schmidt gesê.

Hy het gesê die NSRI-bemanning het 90 minute lank op die strand gewag, maar die dolfyn het nie weer uitgespoel nie. “Toe ons vertrek het ons die lewensredders ingelig dat hulle nie dolfyne terug in die water moet plaas nie, maar eerder die NSRI moet skakel om die relevante netwerk te aktiveer wat diere wat op die strand uitspoel op ʼn gepaste manier kan hanteer.”

Omstreeks 15:45 is die NSRI na Kabeljous-strand ontbied waar nog ʼn dolfyn uitgespoel het. Volgens Schmidt was hierdie ʼn volwasse gestreepte dolfyn, ʼn spesie wat baie selde in die gebied voorkom. Die dolfyn het erge wonde aan sy sykant en agter die rugvin gehad. “Ek en Elaine het by ons aankoms met behulp van lewensredders en lede van die publiek gehelp om seker te maak dat die dier so min as moontlik stres ervaar, terwyl daar vinnig besluite geneem is oor wat om volgende te doen,” het Schmidt gesê.

Hy het gesê dr. Kathy Bezuidenhout, ʼn veeartsenykundige chirurg van die Oribi-dierehospitaal, is na die toneel ontbied om die dolfyn te ondersoek. ʼn Verteenwoordiger van die departement van omgewingsake is ook gekontak om toestemming en raad te kry oor die behandeling van die dolfyn.

Bezuidenhout het bepaal die dolfyn se wonde is te erg vir die dier om in die see te oorleef en die dolfyn is na die dierehospitaal geneem. “ʼn Span is saam met die dolfyn tot by die dierehospitaal waar, nadat alles moontlik probeer is om die dolfyn se lewe te red, dit op menslike wyse van kant gemaak moes word,” het Schmidt gesê.

Hy het almal geloof vir hul betrokkenheid by die saak en ʼn beroep op die publiek gedoen om enige seediere wat uitspoel by die NSRI aan te meld sodat dit op die korrekte wyse hanteer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Dis so jammer hulle kon nie die dolfyn red nie! Nogtans loof ek hulle vir hulle optrede en bemoeidheid ten einde ons seediere te verhoed dat ons seediere ook uitsterf!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.