Twee dood, 4 beseer in botsings

Die ongelukstoneel in Tongaat, KwaZulu-Natal. Foto: IPSS Medical Rescue

Twee mense is dood en vier ernstig beseer in twee verskillende ongelukke Saterdagoggend onderskeidelik in Gauteng en KwaZulu-Natal.

In een van die ongelukke het ʼn vragmotor en ligte voertuig in die vroeë oggendure by die aansluiting van die N12 en R28 in Westonaria in die weste van Johannesburg gebots. Paramedici is omstreeks 04:45 na die toneel ontbied.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel het hulle die vragmotor aangetref waar dit op sy kant lê. Die wrak van die ander voertuig was ʼn paar meter weg van die vragmotor.

“By nadere ondersoek het paramedici gevind dat die bestuurder van die motor noodlottige beserings opgedoen het. Hy is op die toneel dood verklaar. Nog twee mans en ʼn vrou het ernstige beserings opgedoen en is in die wrak vasgekeer,” het Vermaak gesê.

Beamptes van die Westonaria-brandweer het meganiese toerusting gebruik om die insittendes uit die wrak te bevry. Die drie beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na die Randfontein Lenmed-hospitaal gehaas is.

“Die bestuurder van die vragmotor het op die toneel rondgeloop. Hy is deur paramedici ondersoek, maar het vervoer na ʼn hospitaal van die hand gewys.”

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

In ʼn tweede ongeluk is paramedici net ná 09:00 na ʼn ongelukstoneel op die R102 in Tongaat, KwaZulu-Natal, ontbied. Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê die ongeluk het gebeur toe twee ligte voertuie gebots het.

“Een van die bestuurders is op die toneel dood en by paramedici se aankoms was sy liggaam steeds in die wrak van die voertuig vasgekeer. Een van die insittendes in die tweede voertuig het kritieke beserings opgedoen en moes per helikopter na ʼn hospitaal gehaas word. Die ander twee insittendes is ook beseer en na ʼn hospitaal geneem,” het Herbst gesê.

Die liggaam van die oorledene is deur beamptes van die Tongaat-brandweerdienste uit die wrak van die voertuig gesny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.