Twee dood, 4 kritiek toe motor rol

Die ongelukstoneel. (Foto: Verskaf)

Twee mans is Donderdagoggend op slag dood en vier ander passasiers kritiek beseer nadat hul motor op die Heidelbergpad (R23-Noord) in Brakpan aan die Oos-Rand verskeie kere gerol het.

William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni se nooddienste, sê die Brakpan-brandweerstasie het omstreeks 06:15 verneem van ʼn noodlottige ongeluk op die R23 waarop hul reddingspan dadelik reageer het.

By hul aankoms op die toneel was die liggaam van die bestuurder agter die stuurwiel vasgepen. Nog ʼn man se liggaam is buite die voertuig langs die wrak aangetref.

Vier ander mense het verspreid oor die toneel gelê. Dié beseerdes het mediese behandeling op die toneel ontvang waarna hulle na hospitale gehaas is.

Een van die beseerdes is per helikopter na die Charlotte Maxeke-hospitaal gevlieg terwyl die ander per ambulans na die Sunshine-hospitaal in Benoni vir verdere behandeling geneem is.

Die liggaam van die bestuurder is met meganiese toerusting uit die wrak gesny.

Die pad was vanoggend tydelik gesluit terwyl owerhede op die toneel besig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.