Twee dood, 60 beseer in Limpopo-botsing

Foto: ER24

Foto: ER24

Twee mense is dood en minstens 60 mense beseer nadat ʼn bus en ʼn bakkie Sondag tussen Tzaneen en Haenertsburg in Limpopo reg van voor gebots het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het omstreeks 13:00 op die R528 in George’s Valley gebeur. Verskeie ambulansdienste is na die toneel gestuur waar die wrak van die bus tussen die bakkie en versperring langs die pad ingewig was.

Foto: ER24

Foto: ER24

Drie mense was steeds in die bakkie vasgekeer, het Vermaak gesê. “Een van die bakkie se insittendes is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger. ’n Vrou en ʼn 16-jarige meisie het ernstige beserings opgedoen. ʼn Man en ʼn agtjarige seun is dood in die voertuig gevind.” Meganiese toerusting moes gebruik word om die liggame uit die wrak te verwyder.

Die insittendes van die bus het almal geringe tot matige beserings opgedoen en is op die toneel behandel. Hulle is na nabygeleë hospitale gehaas vir verdere behandeling.

Volgens Vermaak is dit nie in hierdie stadium duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die R528 was vir ʼn paar uur gesluit terwyl die ongelukstoneel opgeruim is. Die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar is net twee kante op ‘n pad, dit is my kant en jou kant. Indien daar ‘n trompop botsing plaasvind het iemand oortree. Dis so eenvoudig soos wat dit is.

anon ·

peet het jy al daai pad gery dis n nagmerrie om elke hoek is daar n draai en vieslike afgrond raak skoon bang as ons daai paaie ry na my familie toe

Peet Schabort ·

Des te meer anon, hoe meer die draaie en afgronde hoe meer geduld en hoe minder word die draaie gesny.
Ek het in 55jaar sonder ongeluk alle soorte paaie in alle weersomstandighede gery. Ek is met ‘n VW kewer DEUR (geen brug) die Tugelarivier 23h00 terwyl dit in vloed was. Ek is daardie selfde nag Oliviershoekpas af met daardie selfde kewer met sy 6volt ligte.
Verwag enige oomblik om die onmoontlike te sien gebeur want daar is baie foefolle op die pad en geen verkeersmense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.