Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê die vragmotorbestuurder het beheer oor die vragmotor verloor en teen drie voertuie gebots wat op ‘n gedeelte van die pad, wat onder konstruksie is, gestaan het. Die vragmotor het aan die brand geslaan en een mens het doodgebrand.
“Twee ander mense het kritieke beserings opgedoen en hul liggame was heeltemal bedek met tweedegraadse brandwonde. Hulle is op ventilators geplaas en na die Life Hilton-hospitaal gehaas,” het Rossouw gesê. ʼn Tweede oorledene is in een van die konstruksievoertuie gevind.
Nog vyf mense, wat ernstige beserings en brandwonde opgedoen het, is op die toneel gestabiliseer voordat hulle ook na nabygeleë hospitale geneem is.
Die polisie en plaaslike brandweer was op die toneel om die ongeluk te ondersoek.