Twee dood, drie beseer in trompop botsing

Een van die motors wat in die botsing betrokke was. Foto: Verskaf.

Twee mense is dood en drie ander beseer toe twee voertuie Dinsdag in die vroeë oggendure trompop gebots het in Bothasig in Kaapstad.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks 04:00 op Plattekloofweg tussen Bosmansdam en Vryburgerlaan plaasgevind.

“Ons paramedici het saam met ander nooddienste by die toneel opgedaag en van die insittendes aangetref waar hulle in die wrakke vasgekeer was,” het Vermaak gesê.

Meganiese toerusting is gebruik om die beseerdes uit die wrakke te bevry.

“Ongelukkig was daar niks wat ons vir een van die bestuurders kon doen nie en hy is op die toneel dood verklaar. ʼn Vrouepassasier is in die ander motor aangetref met kritieke beserings. Onderwyl paramedici haar behandel het, het haar toestand vinnig versleg,” het Vermaak gesê.

Volgens hom het die vrou ondanks paramedici se pogings aan haar beserings beswyk.

Nog ʼn kritiek beseerde passasier en twee ander pasiënte met onderskeidelik geringe en matige beserings is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek die voorval.

Die ander motor wat in die botsing betrokke was. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veteraanbestuurder ·

Ek wil veralgemeen met die volgende: Moet nooit ooit dink jy is alleen op die pad, hou by alle verkeersreëls, selfs in die woestyn. Dalk, net dalk, is daar nog iemand op daardie pad waar jy maak soos jy wil.

marous ·

As die verskrikking op die paaie so aangaan , gaan daar negatiewe populasie groei binne ‘n jaar wees. Viva wetstoepassers!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.