Twee dood, een kritiek ná vliegtuig in berg vasvlieg

Argieffoto: AMS

Argieffoto: AMS

Twee vroue is dood en ʼn man kritiek beseer toe ʼn ligte vliegtuig Woensdag, vermoedelik weens slegte weerstoestande, in ʼn berg in die Palmietvlei-omgewing in die Oos-Kaap vasgevlieg het.  ’n Jackrussell-hond wat saamgevlieg het, het ook die ongeluk oorleef.

Craig  Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Donderdag in ʼn verklaring gesê die NSRI en ander nooddienste is omstreeks 11:30 na die omgewing ontbied.

“ʼn Cessna 186-vliegtuig, met drie mense aan boord, het in die omgewing vermis geraak. Die vliegtuig het vroeër vanaf die Wonderboom-lughawe in Pretoria vertrek, by Graaff-Reinet in die Oos-Kaap brandstof ingegooi en nooit by sy eindbestemming by die Plettenbergbaai-lughawe opgedaag nie,” het Lambinon gesê.

Die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC) het beheer oor die soektog oorgeneem. Verskeie helikopters en ʼn private vlieënier in sy eie vliegtuig het aan die soektog deelgeneem, terwyl die brandweer, polisie en verskeie ambulansdienste na die omgewing ontbied is.

“Die vliegtuig se wrak is uiteindelik deur ʼn helikopter opgespoor aan ʼn berghang naby die Oesterbaai-afrit op die N2-snelweg.” NSRI-reddingswerkers moes van die naaste pad na die ongelukstoneel stap en paramedici is later met ʼn helikopter na die toneel geneem.

ʼn 50-jarige man, wat vermoedelik die vlieënier is, is in ʼn kritieke toestand aangetref. Hy is op die toneel gestabiliseer en met ʼn helikopter na ʼn hospitaal in Port Elizabeth geneem. ‘n Polisiebeampte het na die hond omgesien en aan die oorledenes se familie oorhandig.

“Die twee vroue, onderskeidelik 50 en 75 jaar oud, was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag. Hulle is op die toneel dood verklaar en hul liggame moes uit die wrak gesny word,” het Lambinon bygevoeg.

Die Burgerlugvaartowerheid ondersoek die voorval.

Die oorledenes se name is nog nie bekend gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Dis verskriklik hartseer so kort voor Kersfees… My hart is so só seer vir die oorledenes se familie en vriende.

SkarrelKind ·

Dis hartseer, foeitog. Ek is dankbaar die hondjie is versorg en ek hoop die man sterk goed aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.