Twee dood in botsing by vulstasie

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Twee mense is dood toe hul motor agter in ʼn vragmotor ingeploeg het waar dit by ʼn vulstasie op die N2 buite Richardsbaai gestaan het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê dit is nie presies duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie. “Volgens ooggetuies het die motor in die vulstasie, sowat 10 km buite Richardsbaai, ingejaag gekom en teen die agterkant van die afleweringsvragmotor gebots,” het hy gesê.

“Paramedici was kort daarna op die toneel. Die twee passasiers in die motor het ongelukkig reeds aan hul veelvuldige beserings beswyk.”

Volgens Botha het die bestuurder van die motor wonderbaarlik slegs geringe beserings opgedoen. Hy is deur polisiebeamptes van die toneel af geneem.

African News Agency het berig ‘n polisiewoordvoerder het bevestig dat ʼn saak van dronkbestuur teen die bestuurder aanhangig gemaak is. Hy sal Dinsdag in die Empangeni-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.