Twee dood in treinongeluk, spoor gesluit

Argieffoto

ʼn Treinspoor tussen Thabazimbi en Lephalale is vroeër die week beskadig in ʼn noodlottige trompop botsing tussen twee van Transnet Freight Rail se treine by die Matlabas-aansluiting. Die ongeluk het omstreeks 20:45 op 15 Oktober plaasgevind tussen onderskeidelik  ʼn trein wat 100 gelaaide steenkoolwaens en ʼn trein wat 89 leë waens getrek het.

Transnet kan nie sê hoe lank die toevoerspoor gesluit sal wees nie, maar hulle is tans besig om die spoor te herstel.

Die treindrywer van die leë trein en sy assistent, wat onderskeidelik 31 en agt jaar vir Transnet gewerk het, het in die ongeluk gesterf. Die vol trein se drywer en assistent is ernstig beseer en na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer.

ʼn Woordvoerder van Transnet het aan Maroela Media gesê omtrent 12 000 ton se verkeer het die dag ná die ongeluk op die spoor verlore gegaan, maar ondernemings wat van die spoorlyn gebruik maak, het reeds alternatiewe planne vir hul vragte gemaak.

“Van die ondernemings het hul vervoer tot later uitgestel, ander het weer vragmotors ingespan om die vrag te vervoer.

“Mediaberigte wat daarop dui dat die spoor ʼn hooflyn is wat die Richardsbaai-steenkoolterminaal voer, is verkeerd. Hierdie spoor was net ʼn toevoerlyn en het ʼn verskeidenheid vragte gedra, van steenkool tot agri-produkte en sement,” het die woordvoerder gesê.

Transnet se woordvoerder het verder gesê die omvang van die skade aan infrastruktuur moet nog ondersoek word. Hulle weet ook nie wanneer die lyn weer oopgestel sal word nie. Twee lokomotiewe van die leë trein het uitgebrand, terwyl ʼn derde lokomotief ontspoor het. “Ons vermoed dit beloop skade van miljoene rande.”

Die woordvoerder kon ook nie bevestig wat tot die ongeluk gelei het nie. “Daar sal binnekort ʼn raad van ondersoek op die been gebring word om die saak te ondersoek en ʼn onafhanklike arbiter sal aangestel word.”

Daar is egter reeds ʼn herstelspan op die toneel om die beskadigde lokomotiewe en trokke te verwyder en herstelwerk te begin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Santjie ·

Transnet woordvoerder “ons VERMOED dit beloop skade van miljoene rande”….. NATUURLIK loop dit miljoene rande se skade – dis nie speelgoed lokomotiewe nie! Rerig…

A ·

Jammer om te sê julle TFR informant weet nie lekker wat oor die lyn vervoer word nie. Dis die lyn tussen Thabazimbi en Ellisras se steenkool myn. Dis al wat daar vervoer word! Steenkool.

A ·

Dis 39 en 43 klas diesels. Word elke dag op die lyn gebruik. Dis n kruispunt (loop) en daars nie sinjale nie. Werk met tba stelsel. Magtiging word aan elke trein gegee van presies waar tot waar elke trein mag ry, en waar hy moet wag. Dis nie ons werk om te oordeel nie. Almal betrokke is /was ons vriende en kolegas. Goeie mense. Dink baie aan hulle mense wat agter bly.

Attie. ·

Dankie MM, ek het nou al die nuus deurgegaan en kan net sê……geen nuus is goeie nuus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.