Twee dood na polisie nog ʼn transitoroof fnuik

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Twee vermeende rowers is Saterdag in Centurion doodgeskiet toe die polisie op ʼn groep gewapende verdagtes toegeslaan het wat glo ʼn transitorooftog beplan het.

Die verdagtes is in John Vorster-rylaan onderskep, het brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Skietery het uitgebreek en twee van die vermeende rowers is noodlottig gewond. Daar is op die AK47’s beslag gelê.

Mathe het bevestig dat een van die oorledenes ʼn voormalige polisiebeampte is wat in 2018 weens korrupsie uit die diens ontslaan is.

Die jongste voorval kom net twee dae nadat nege verdagtes wat glo ʼn transitorooftog beplan het, dood is in ʼn skietgeveg met die polisie.

Lede van die Gautengse polisie se taktiese reaksiespan het Donderdag omstreeks 06:00 inligting ontvang dat verdagtes glo die rooftog beplan.

Die polisie het hulle na die gegewe adres in Sebokeng, Vanderbijlpark, gehaas waar ʼn skietgeveg tussen ʼn groep gewapende verdagtes en die polisie ontstaan ​​het.

Agt verdagtes is op die toneel dood verklaar, terwyl die negende verdagte in die hospitaal dood is.  Nog drie verdagtes is beseer en ook na die naaste hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Die polisie het beslag gelê op ses gewere, ses kommersiële eenhede springstof wat gereed was om gebruik te word, asook vier voertuie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.