Twee dood ná skietgeveg met polisie

(Foto: SA Polisie)

Twee verdagtes is doodgeskiet nadat die polisie planne om ʼn taverne buite Pinetown, KwaZulu-Natal, te beroof in die wiele gery het.

Volgens kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes van Mariannhill Donderdag laatmiddag gereageer op inligting dat vyf mans in ʼn voertuig op pad was om ʼn taverne in KwaSanti te beroof.

“Die polisiebeamptes het die verdagtes opgespoor en agternagesit waarna die verdagtes op die beamptes losgebrand het. Die beamptes het teruggeskiet en twee mans is in die proses doodgeskiet.” Die bestuurder van die motor is in hegtenis geneem.

Daar is ook op twee vuurwapens en twee voertuie beslag gelê. Een van die voertuie is vroeër in KwaDabeka gekaap. “Daar sal nou ondersoek ingestel word om te bepaal of die verdagte wat in hegtenis geneem is met enige ander misdade verbind kan word.” Die soektog na die ander verdagtes duur voort.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het die polisiebeamptes geloof vir hul vinnige optrede.

“Ons wil misdadigers waarsku dat ons polisiebeamptes hul lewe en die lewe van burgers te alle tye sal beskerm. Wetsoortreders wat op polisiebeamptes skiet, kan verwag dat beamptes gaan terugskiet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Toegegee Koker, dit ìs werklik welgedaan. Maar onthou ook dat dit ‘n taverne was en niè ‘n plaas nie.

Frederik C ·

Natal-polisie kan skiet. Dit lyk asof hulle by ‘n ander kollege, as die ander provinsies se polisie, opleiding kry.

Cherokee ·

“Ons wil misdadigers waarsku dat ons polisiebeamptes hul lewe en die lewe van burgers te alle tye sal beskerm.”
Askies plaasboere, julle word dus nie beskou as burgers nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.