Twee dood oor bees in pad

Die ongelukstoneel. (Foto: Netcare 911)

Twee mense, van wie een ’n kind, het Woensdagaand in ’n motorongeluk op die N1‑Kroonvaal naby Kroonstad in die Vrystaat gesterf. Dit nadat ʼn bees oor die pad geloop het. Nog ’n kind en ’n volwassene is tydens die voorval beseer.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het in ’n verklaring gesê ’n bees het oor die hoofpad geloop en ’n vragmotor het die dier in die pad getref. Kort daarna het ’n sportnutsvoertuig ook die dier getref, waarna dié motor gerol en teen ’n ander motor gebots het.

Volgens Herbst is paramedici omstreeks 19:04 na die ongelukstoneel ontbied, waar twee insittendes van die motor dood verklaar is.

Nog ’n volwassene en kind in dieselfde motor het matige beserings tydens die voorval opgedoen. Albei is op die toneel behandel voordat hulle na ’n hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling, het Herbst gesê.

Die insittendes van die sportnutsvoertuig het geringe beserings in die voorval opgedoen en het vervoer na ’n hospitaal van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Eienaar van bees moet vir die begrafnis en alle skade betaal

koos10 ·

Willen, die eienaar is wetlik aanspreeklik, en kan krimineel vervolg word, die grootste probleem is dat klein/bestaans boere se beeste nie gebrandmerk word nie, en daarom, as dit so ‘n bees is, sal jy nooit die eienaar van so ‘n bees kan opspoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.