Twee dood, talle skoliere beseer in botsing

Foto: ER24

Foto: ER24

Twee mense, insluitend ʼn skolier is dood, en 18 kinders is beseer nadat ʼn taxi wat skoolkinders vervoer het op die R101 (Ou Warmbad-pad) omgeslaan het.

“Die taxi het glo teen ʼn brug gebots waarna dit omgeslaan het,” het Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, gesê. Die taxibestuurder en die 16-jarige tiener is op die toneel dood verklaar. Volgens ER24 het die bestuurder en die kind se liggame sowat 10 m ver van die taxi gelê.

Dertien leerlinge het kritieke beserings opgedoen en vyf van die skoliere is in ʼn ernstige toestand. Hulle is op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale vervoer is vir verdere behandeling. Volgens ER24 is die 16-jarige meisie per helikopter na die Unitas-hospitaal geneem vir dringende mediese behandeling.

Die omstandighede rondom die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie.

Altesaam 13 kinders is verlede week Maandag beseer in ʼn ongeluk tussen ʼn motor en ʼn vragmotor op die N3 in Alberton aan die Oos-Rand. Sewe kinders is Woensdag dood nadat ʼn bakkie teen ʼn huis gebots het in Pietermaritzburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hein ·

En tog is daar niemand wat iets teen die taxis wil sê nie…hoeveel bloed gaan hulle nog vergiet op ons paaie?

Lindie Lourens ·

Wat gaan aan!!!!? Die skool het skaars begin en daar’s ongeluk op ongeluk waarin skoolkinders beseer of gedood word!!!

Anna ·

Liewe ouers, hoeveel lewens gaan taxis nog veroorsaak, het daai bestuurders regte lisensies of is dit gekoop?

Griet ·

Aldus Netwer24 – ‘n Ooggetuie vertel:
“Die taxi wou ons aan die linkerkant verbysteek, maar daar was reeds ’n ander taxi en ’n vragmotor in die noodbaan. Hy het toe aan die regterkant verbygejaag, vinger gewys en op sy toeter geblaas,” het nog ’n ooggetuie gesê.

Hy het hom met die aankomende verkeer in die regterbaan misgis en wou uitswenk, maar het teen twee pilare van ’n treinbrug, wat oor die R101 loop gebots en gerol.

En verder:
“Die polisie moes ingryp toe ’n groep taxi-bestuurders die bestuurder van ’n Landrover Discovery op die toneel omsingel het en gedreig het om sy motor aan die brand te steek en hom dood te maak. Hulle was glo kwaad vir hom omdat hy nie die taxi wat verongeluk het, wou toelaat om verby te ry nie.”

Go figure!!

Hendrik ·

Ons sien al hierdie dinge daagliks. Ons sien ook hoe TMPD gerieflikheids onthalwe verby al hierdie verkeersoortredinge kyk. Hulle is soos dassies en kom net uit as die sonskyn en veilig is.

bea ·

May his soul rest in hell!!!!!!! want dis waar die mense wat so jaag en ander mense se lewens neem hoort!!! niks minder as n moordenaar

Ooggetuie ·

Na aanleiding van die gruwel ongeluk van Dinsdagoggend 03 Februarie 2015 op die R101.
Geagte Mnr Die Taxi Bestuurder,
Het jy besef, toe jy op hierdie oggend agter jou minibus se stuurwiel in klim, dat jy ander mense se kinders vervoer? Hulle het jou ten volle vertrou met hulle kinders se lewens, toe jy hulle inlaai?
Jy het links in die noodbaan probeer verby druk, maar jy kon nie want die Land Rover was in die baan en daar was reeds ‘n voertuig in die noodbaan. Die Land Rover het verby gegaan en sy noodligte aangesit om “dankie” te se aan die voertuig in die noodbaan. Ek het jou dopgehou, jy is ook verby en het ook jou noodligte aangesit om “dankie”te se. Jy was haastig, hoewel die verkeer jou geboikot het. Niemand kon erens heen gee pad om vir jou plek te maak nie. Weer het jy in die noodbaan probeer verby vat. Weer kon jy nie. Daar was ‘n ander taxi en ‘n vragmotor ‘n ent vorentoe. Jy was kwaad, en het vet gegee, regs geswaai om verby te gaan… Maar daar was n klein motortjie skuins voor die Land Rover, maar jy was so besig om te jaag, jou toeter te druk en vingertaal te praat dat jy nie gekyk het nie. Skielik moes jy uitswaai om ‘n botsing te vermy. Jy het skerp regs geswenk en toe skerp links. Ek het jou spoed gesien, die brug pilare wat nader kom, die skreeuende bande gehoor, en toe die slag. Dit was verskriklik.
Nog nooit kon ek myself indink dat mense, die kinders, so woes rondgeslinger kon word nie. Jou spoed en die impak was so geweldig dat die sitplekke uitgebreek het. Kinders is in alle rigtings geslinger, en geskuif teen ‘n geweldige spoed oor die teerblad. Die motors moes almal baie vining reageer om nie bo-oor die kinders te ry nie. Skooltasse en boeke het die hele plek besaai. Nee, Mnr Die Taxi Bestuurder, jy het nie gedink nie!
Ek was eerste op die toneel om te kyk waar ek kan help, maar niks kon my voorberei vir dit wat ek gesien het nie. Dit was so oorweldigend dat my menslike brein dit op daardie oomblik nie alles kon absorbeer nie. Ek het outomaties begin optree. Dis mos waarvoor jy opgelei word. Ek het op die eerste kind afgestorm, dit lyk soos ‘n femur breuk… Ja, Taxi Bestuurder, ek was by jou ook, jou kop het in die windskerm vasgesit en jy het redelik verfrommel gelyk daar binne. ‘n Swart vrou het aangehardloop gekom en wou jou uithaal. Hoe meer ek vra hulle moet wag vir die brandweer, hoe minder wou hulle hoor. Toe ek opkyk, sien ek ‘n meisie, sou later hoor sy is 16, wat vassit tussen die taxi en die randsteen. Haar een been op die teerblad vasgepen en die ander in ‘n abnormale posisie oor die randsteen. Ooglopend lyk dit soos ‘n erge pelvis-fraktuur. Tog het ‘n swartman haar probeer uithaal, maar het geluister toe ek vra hy moet wag vir hulp.
In die taxi het nog kinders vasgesit. Ek het ‘n geroggel gehoor en ‘n seun gesien wat besig was om te verstik in sy eie bloed. Sy oor was omtrent heeltemal afgesny en hy het ‘n lang, diep wond vanaf sy oor, oor die kant van sy nek gehad. Dit wou vir my voorkom asof sy borskas erge en verskeie breuke gehad het. Ek sal nooit sy oe vergeet nie, en in my binneste geweet hy gaan binnekort by Liewe Jesus slaap. Ek kon nie veel vir hom doen nie en het magteloos gevoel. Ek het opgekyk en gebid.
Toe ek rondom my kyk, sien ek die toneel le besaai met verfrommelde kinders, boeke, tasse en skryfbehoeftes. Die reuk van warm motor-olie en bloed ruik ek nog steeds. Ek hoor nog die kinders kerm, huil en gil. Kan een mens hiervoor verantwoordelik wees omdat jy geen ander padverbruikers duld nie? Omdat hulle nie vir jou wil padgee as jy dit vereis nie?
‘n Seun, so 2m verder, le baie stil. Ek raak aan hom en hy loer na my. Femur breuk. Tog is hy baie kalm. Ek praat met hom, stel hom gerus dat die ambulans oppad is. Hy vra wat hulle gaan doen? Ek verduidelik dat hulle sy been gaan stabiliseer en hom dan hospitaal toe gaan vat. Hy vat my hand en bedank my vir my hulp. Ek trek ‘n boeksak nader en sit dit onder sy kop. ‘n Bietjie gerusstelling was al wat hy nodig gehad het. Minder as die res. ‘n Seun wat in ‘n ander voertuig was kom by my en se dat hy die ambulans en polisie gebel het. Ek kon hom op daardie oomblik ‘n stywe druk gee, dat hy so mooi kop hou en kalm bly in die chaos, waar tot die omstaanders histeries raak. Ek vra hom om na die kinders oorkant die pad te gaan en te kyk of daar baie ernstige gevalle is. Hy se hy was daar, skud sy kop en draai om. Ek het hom nie weer gesien nie. Ek kyk oorkant toe. Dis baie erg. Daar le ‘n kind met verskeie breuke. Sy been het gelyk soos n koeksister, opgewen. Die geweldige pyn kan jy op elke kind se gesiggie sien. Toe ek die kinders se bloed van my arms afwas, toe tref die skok van die situasie my eers.
Die omstanders soek iemand om verantwoordelik te hou vir die groot gemors. Julle kan die blaam slegs op een plek le. By Mnr Die Taxi Bestuurder. As hy meer geduld gehad het met die oggend verkeer, geduld gehad het met sy mede padverbruikers, nie gejaag het nie, en minder gevloek en geskel het, sou dit nie gebeur het nie.
Mnr Die Taxi Bestuurder, ek wil vir jou graag se : “Laat dit vir jou ‘n les wees”, maar dit sal nooit die pyn en leiding wat jy veroorsaak het, verlig nie. Geen woorde kan daardie ouers troos nie. Geen woorde wat jou ooit kan uiter, sal genoeg wees, om jammer te se wat jy veroorsaak het nie. Dit is jammer jy kon dit nie besigtig onder jou blink kombersie nie. Dis jammer jy kon nie die ander blink kombersies op die toneel sien nie. Maar weet jy, ek en ander het dit gesien. Dit het my hart gebreek om ouers ontroosbaar te sien. Om te dink hulle stuur hulle kinders skool toe, en dan die nuus te kry daar was ‘n ongeluk.
Ek hoop ons Liewe Heer het jou so bietjie laat hang oor die toneel voor Hy jou weggevat het. Jou net ‘n laaste blik gegee het van die lewens wat jy geneem het weens jou ongeduld. Jy kon nie eens jou saak met God probeer regstel nie.
Ek wil graag baie dankie se aan die ambulans personeel wat so vinnig op die toneel was, hoewel dit vir my soos ‘n ewigheid gevoel het. Dankie aan die dame, met die swart en wit bloes, en haar dogter wat kom bystaan het, al was dit net om die kinders kalm te hou. Dit het grensloos baie beteken. Dankie aan Charles, Ansie en Marietjie van die GPF Sinoville wat my bygestaan het. Dankie aan die swart dame wat my gehelp het om my arms en hande af te was.
Ek moes hierdie voorval op papier sit. Eerstens, om dit van my hart af te kry, tweedens, dat almal besef dat die man met die Land Rover nie skuldig is nie en derdens, Mnr Die Taxi Bestuurder, is hierdie brief gerig aan jou. Die dood van kinders verwerk ek baie moeilik. Ons, as volwassenes, is veronderstel om kinders en ou mense te beskerm en te koester. Nie te verfrommel, te breek en te verwoes nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.