Twee dood toe vragmotors op N3 bots

Die ligte voertug is aan die kant van die pad aangetref (Foto: ER24)

Drie mense is dood en 19 beseer in twee aparte ongelukke wat Sondagaand in Heidelberg en digby Potchefstroom plaasgevind het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê in die eerste ongeluk is ’n man en ’n vrou dood en nog ’n mens beseer toe twee vragmotors, ’n bakkie en ’n ligte voertuig op die N3 in Heidelberg in Gauteng gebots het.

Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle ’n vragmotor op sy sy in die pad aangetref. Dit het die verkeer aan die een kant van die snelweg versper. ’n Motorwrak is ook aan die kant van die pad aangetref. Die ander vragmotor en bakkie is ’n ent weg van die ongelukstoneel aangetref.

“’n Vrou in die motorwrak en ’n man in die bakkie het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” sê Meiring.

“Die bestuurder van die een vragmotor het ligte beserings opgedoen en is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”

’n Vrou dood en 18 mense beseer nadat twee bakkies op die N12 gebots het (Foto: ER24)

Volgens Meiring is die bestuurder van die tweede vragmotor nie op die toneel gevind nie. Hy sê die polisie stel ondersoek in om te kyk of hulle die bestuurder kan opspoor. Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

In nóg ’n ongeluk is ’n vrou dood en 18 mense beseer nadat twee bakkies op die N12 tussen Potchefstroom en Fochville gebots het. Van die beseerdes was kinders.

“Paramedici het die een bakkie aan die kant van die pad aangetref en die ander een in die middel van die pad. Altesaam 19 mense het verspreid op die toneel gelê.”

Een vrou het noodlottige beserings opgedoen. Paramedici kon niks vir haar doen nie en sy is op die toneel dood verklaar. Een insittende was kritiek beseer terwyl die oorblywende 17 matige beserings opgedoen het.

Die beseerdes is na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese sorg.

Die polisie ondersoek albei ongelukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre ·

Waar is die Minister…….kyk wat gaan op die paaie aan…….o ja Paas naweek is verby.

Bella ·

Die vraag is wanneer gaan daar iets aan die N12 gedoen word? Daar is baie gereeld noodlottige ongelukke op daardie pad tussen Potchefstroom, Carletonville en Fochville. Veral by die 4 rigting stop straat. Dit word net keer op keer gerapporteer, maar niks word gedoen om die pad ook veiliger te maak nie. Te veel vragmotors op die N12, wat meestal n enkel baan is tussen Randfontein en Potchefstroom. Mense ry baie vinnig om verby die vragmotors te kom terwyl die pad dubbel is vir n entjie, min plek om veilig verby te gaan ens. Al wat jy op daardie pad sien is af en toe polisie teenwoordigheid en kameras. Die N12 het nodig om dubbelbane beide rigting daar te hê, sonder n lawwe 4 rigting stopstraat uit die niet daar. Bou n brug oor die pad sodat mense veilig oor die kruising kan kom.

Mariana ·

Dit is vreeslik as mens hoor van al die ongelukke. Wat is aan die gebeur, roekelose en nalatige bestuurders of is dit bloot net ongelukke?

Baardman ·

Toestand van die paaie speel ook n groot rol in baie ongelukke

Francois ·

Roekelose en nalatige bestuur. Hoe is daar ook 20 mense in 2 bakkies

John ·

Wanneer, net wanneer gaan daar iets gedoen word met die vragmotors en die bestuurders se gedrag op die hoofweë???
Mens ry in vrese op die paaie as jy sien hoe hulle bestuur…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.