Twee transitorowers is Maandag doodgeskiet en twee van hul makkers is in hegtenis geneem tydens ʼn transitorooftog naby Delmas, Mpumalanga.
ʼn Groep swaar gewapende rowers het op die R42 op die geldwa toegeslaan, het brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, gesê.
Die rowers het gepoog om die twee veiligheidswagte van kontant te beroof, maar hul pogings was onsuksesvol.
“Die polisie is in kennis gestel en het hulle vinnig na die toneel gehaas en by hul aankoms het ʼn skietgeveg uitgebreek en twee rowers is noodlottig gewond.”
Volgens Mohlala het twee van die verdagtes ʼn Toyota Quantum gekaap en weggejaag en het polisebeamptes die minibus agternagesit. “Die twee verdagtes, onderskeidelik 24 en 34 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die res van die verdagtes het van die toneel gevlug.”
Die polisie het op ʼn geweer sowel as magasyne, seinblokkeerders en polisiehandradio’s beslag gelê. Daar is ook op ʼn Porsche Cayenne en ʼn BMW, wat glo deur die rowers tydens die rooftog gebruik is, beslag gelê.
Die polisie is steeds op soek na die oorblywende verdagtes.
Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is sal na verwagting binnekort in die Delmas-distrikshof verskyn op aanklag van gewapende roof, die besit van vuurwapens en ammunisie asook die besit van plofstof. Nog klagte kan teen die verdagtes aanhangig gemaak word.
Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het polisiebeamptes geloof vir hul vinnige reaksie en ook ʼn streng waarskuwing gestuur aan transitorowers.
“Hulle moet kennis neem dat Mpumalanga nie ʼn plek is waar misdadigers kan maak soos hulle wil nie. Ons lede is altyd gereed om vuur met vuur te beveg.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
So ons het nou elke week ten minste een Transito rooftog erens in die land.Hulle se misdaad betaal goed in Suid Afrika en daarom hou dit nie op nie.
En dit neem by die dag toe. Daar moet binne-inligting wees, want hoe weet die rowers hoe laat die transitovoertuig op ‘n sekere roete is. Hoekom is hierdie aspek nog nooit ondersoek nie? Êrens is daar ‘n slang in die gras en daar bestaan lank reeds bedenkinge hieroor.
Wie anders? Daar is mos n meerderheid wat nie kan verstaan dat iets nie hulle eiendom is nie.
Die Regering Kader kort geld.
Well done, hoop julle kry die ander diewe ook vinnig, skuim van die aarde.