Twee dood tydens Oujaarsaand-skietery in Melville

Poppy’s-restaurant in Melville (Foto: Google Maps)

Minstens twee persone is dood en ses persone beseer tydens ʼn skietery op Nuwejaarsdag omstreeks 01:00 by ʼn restaurant in Melville, Johannesburg.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn BMW-sportnutsvoertuig het van 7de Straat in die rigting van ʼn restaurant gery en lukraak op klante, wat buite die restaurant gesit het, losgebrand. Agt persone is getref. “Twee persone is op die toneel dood en ses persone is na nabygeleë hospitale geneem. Twee van die ses persone is in ʼn kritieke toestand. Albei die oorledenes is vroue tussen 30 en 40 jaar oud.”

Maroela Media verneem die skietery het by Poppy’s-restaurant plaasgevind. Inwoners het glo al verskeie klagtes ingedien oor die harde musiek van die restaurant en die tipe klante wat dit lok, maar die polisie het nog nie op die klagtes reageer nie.

Peters het gesê die polisie ondersoek twee sake van moord en ses sake van poging tot moord.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel. Hy het ondersoekbeamptes gemaan om seker te maak dat geen steen onaangeroer gelaat sal word nie om die oortreders op te spoor.

Enigiemand wat ʼn ooggetuie was of meer inligting het oor die voorval word versoek om die polisie te kontak by 08600 10111 of stuur ʼn wenk op die MySAPS-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.