Twee dood, vier beseer in gru-botsing

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Twee mans is Saterdagoggend dood en vier mense beseer nadat ʼn vragmotor teen twee motors op die N14 by die Pinehaven-aansluiting gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici was by ʼn nabygeleë vulstasie toe hulle ʼn harde slag gehoor het. “’n Groot vragmotor het oor die aansluiting gery en teen ʼn motor gebots en toe ʼn ander motor omtrent 1 km ver gesleep.”

Die vragmotorbestuurder se liggaam het in die aansluiting op die pad gelê. Hy het glo tydens die botsing uit die vragmotor gespring waarna hy onder een van die voertuie se wiele beland het. Hy is op die toneel dood verklaar.

Volgens Meiring was die bestuurder en passasier van die motor wat gesleep is, in die wrak vasgekeer. Hulle is met meganiese toerusting uit die wrak verwyder. Die bestuurder is op die toneel dood verklaar. Die passasier is kritiek beseer en op die toneel behandel voordat hy met ’n helikopter na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling vervoer is.

Die drie insittendes van die ander voertuig het ligte beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel voordat hulle na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling vervoer is. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.