Twee dood, vier gewond ná Centurion-skietery

Die owerhede vanoggend op die toneel. (Foto: Facebook)

Twee verdagtes is dood en vier ander mans, onder wie twee verdagtes en twee polisiebeamptes, is kritiek beseer nadat ʼn skietgeveg Donderdagoggend in Hennopspark in Centurion uitgebreek het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê verskeie nooddienste is vanoggend omstreeks 09:04 na Jacarandastraat ontbied ná ʼn skietery tussen die polisie en verdagtes.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het op sy beurt gesê twee mans is met paramedici se aankoms op die toneel in ʼn motor aangetref terwyl nog twee verdagtes in dié stadium buite die motor gelê het.

Twee gewonde polisiebeamptes is ʼn kort ent daarvandaan aangetref.

“Medici het die pasiënte ondersoek en gevind dat die twee verdagtes in die voertuig aan hul wonde beswyk het. Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is dood verklaar.

“Die twee polisiebeamptes en twee oorblywende verdagtes is ondersoek. Hulle was in ʼn kritieke toestand.”

Volgens Herbst is een van die polisiebeamptes in die gesig geskiet terwyl die ander ʼn skietwond aan die been opgedoen het.

ʼn Helikopter is weens die aard van die twee polisiebeamptes se toestand ontbied en albei pasiënte is na ʼn hospitaal gevlieg.

Die twee beseerde verdagtes is per ambulans na ʼn hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Die plaaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Werner ·

Hierdie land begin nou deur bendes en gepeupel regeer te word . Hane tree weg van volskaalse anargie

Suzette ·

Dit is so Werner en die EFF en Clicks het nou die groen lig gegee – dit werk en jy word nog vergoed ook…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.