Twee doodgeskiet, drie gewond ná inbraak

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Die polisie se taktiesereaksie-eenheid het twee vermeende inbrekers doodgeskiet en drie gewond toe hulle gereageer het op ʼn inbraak by ʼn huis in Motherwell, Port Elizabeth.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn vrouepolisiebeampte is Maandagoggend in haar huis oorval. Die verdagtes het met die beampte se motor, haar amptelike vuurwapen en bankkaarte gevlug.

Volgens Beetge het die verdagtes geld onttrek by ʼn OTM waarna die beampte ʼn SMS op haar foon van die transaksie gekry het. Die beampte het die polisie genader en lede van die taktiesereaksie-eenheid is na die OTM ontbied. Die beamptes het ʼn verdagte VW Jetta opgemerk en agternagesit.

Beetge het gesê die Jetta het weggejaag, maar later weer stadiger gery toe die verdagtes uit die motor probeer spring het. Die verdagtes het op die polisie losgebrand en die beamptes het teruggevuur. Vyf verdagtes is gewond. Twee is op die toneel dood verklaar. Die ander drie is onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die polisievrou se voertuig is later in Motherwell teruggevind. Haar vuurwapen sowel as een van die verdagtes se vuurwapen is op die toneel gevind. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.