Twee doodgeskok toe hulle avo’s pluk  

ʼn 12-jarige seun en sy oom is doodgeskok toe hulle glo avokado’s uit ʼn boom gepluk het. (Foto: Eskom / Twitter)

ʼn 12-jarige seun en sy oom is Saterdag in Ekangala in Gauteng doodgeskok toe hulle glo avokado’s van ʼn boom gepluk het.

Eskom sê in ʼn verklaring hy ondersoek die voorval self, terwyl die polisie ook ʼn ondersoek daarna doen.

“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die seun ʼn staalpyp gebruik het om die avokado’s mee uit die boom te oes toe dié pyp met oorhoofse kragdrade kontak gemaak en hom geskok het,” sê Kith Maitisa, ʼn bestuurder by Eskom in Gauteng.

Maitisa sê die volwasse slagoffer is vermoedelik doodgeskok toe hy die kind probeer help het.

Albei is op die toneel dood verklaar.

“Ons is hartseer oor die verlies aan lewe, veral op só ʼn wyse. Ons poog voortdurend om dié soort voorvalle te voorkom deur die publiek oor elektrisiteitsveiligheid te onderrig,” sê Maitisa.

“Dit spyt ons veral dat die voorval tydens Eskom se maand van nasionale elektrisiteitsveiligheid plaasgevind het. Gedurende dié maand kweek ons bewusmaking oor die veilige gebruik van elektrisiteit en moedig ons gesinne en gemeenskappe aan om gevaarlike elektrisiteitpraktyke te staak.”

Maitisa sê voorts dat bome wat onder kragdrade groei uiters gevaarlik kan wees.

“Ons moedig die publiek aan om bome wat aan kragdrade raak, by Eskom aan te meld.”

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag in verband met dié voorval gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Irene ·

Dis baie jammer dat hulle dood is maar soos Danie wil ek ook vra “aan wie behoort die avos”. n Avo boer weet dis nie hoe jy avos pluk nie.

Madz ·

Ek sit met dieselfde probleem – bome te na aan Eskom lyne. Ek het die versoek al 3 keer ingesit na Eskom met foto’s dat hulle die bome moet kom sny. Met my laaste versoek het hul wel met twee voertuie op die kleinhoewe aangekom, gevra of onsself die takke sal sny as hulle die krag afsit. Het ons ‘n keuse gehad…? Ons moes noodgedwonge ketting-saag en ander toerusting gaan huur/leen en het self die takke begin sny terwyl Eskom gestaan en kyk het…..Only in SA…

Peach ·

Madz, aan wie behoort die bome….. ek neem aan die eienaar moet seker verantwoordelikheid neem of hoe?

SjN ·

Maitisa van Eskom, waar val jy uit, dit is nie die bome wat aan die drade raak nie, die eienaar weet van regulasies en
hoe om te oes. die ysterpyp was die oorsaak van die ongeluk, het hul opdrag gehad om avos te pluk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.