Twee dosyn A’s vir slimkop-tweeling

Christiaan en Carla Botes van Johannesburg het onderskeidelik 14 en 10 onderskeidings behaal. (Foto: Verskaf)

Christiaan en Carla Botes, ʼn 18-jarige tweeling van Johannesburg, Gauteng, het goeie rede om behoorlik fees te vier nadat hulle onderskeidelik 14 en 10 onderskeidings in verlede jaar se matriekeindeksamen behaal het.

Dié twee slimkoppe het aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg gematrikuleer. Nie net is dit vir dié broer-en-suster-paar ʼn persoonlike mylpaal nie, maar beslis ook ʼn groot mylpaal vir die skool. Dit is die eerste keer in Helpmekaar Kollege se geskiedenis dat ʼn matrikulant meer as 11 onderskeidings behaal.

Volgens Christiaan het hy daarvoor gemik om onderskeidings vir al sy vakke te kry en het hy gesorg dat hy reeds met die rekordeksamen die lang ure voor die boeke insit.

“Die rekordeksamen gee jou ʼn baie goeie idee van wat om te verwag en jy skryf oor presies dieselfde werk. Ek voel dit is die beste manier om voor te berei vir die eindeksamen, want dan weet jy reeds wat vir jou werk en jou punte vir die rekordeksamen gee jou ʼn goeie aanduiding oor hoe hard jy nog moet werk vir die eindeksamen.”

Hy sê hy het reeds in gr. 11 besluit om sy punte ʼn hupstoot te gee en het sy gemiddeld van 85% na 94% opgeskuif.

“In gr. 8, 9 en 10 het ek ʼn paar onderskeidings gemis, maar met die matriekeindeksamen wou ek hulle almal inoes en het reeds in gr. 11 daarna begin mik.”

Christiaan het onderskeidings behaal in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, ekonomie, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie, rekeningkunde, besigheidstudies, geografie, rekenaartoepassingstegnologie, toerisme, wiskunde (gevorderde program) en fisika (gevorderde program).

Carla, wat 10 onderskeidings behaal het, sê sy het ook haar oog op dié ronde getal gehad en het dwarsdeur haar matriekjaar gewoeker om haar doelwit te bereik.

“Ek het heeljaar geweet ek wil met die eindeksamen onderskeidings behaal en het deur die jaar elke keer ʼn bietjie harder gewerk om dit reg te kry as ek dalk in ander toetsreekse en eksamens daarin misluk het.”

Christiaan Botes het geskiedenis behaal deur die eerste leerder aan Helpmekaar Kollege te wees wat 14 onderskeidings inoes. (Foto: Verskaf)

Volgens Christiaan en Carla is daar nie ʼn wedywering tussen hulle wat skoolpunte betref nie, maar Christiaan bieg dat sy vriende ook almal in die akademiese toptien van dié skool was en dat hulle ʼn gesonde medededinging onder mekaar gehad het.

“Ek en my vriende het beslis heeljaar gehoop vir hoë punte in die eindeksamen,” sê hy.

Die Botes-tweeling se ouers, wat albei geoktrooieerde rekenmeesters van beroep is, bars uit hulle nate van trots.

“Ek dink egter hulle het verwag dat ons in die eindeksamen baie goed sou vaar, aangesien ons die hele jaar hard daarvoor gewerk het,” sê Christiaan.

Hy beplan om in Februarie na die Wes-Kaap te verhuis, waar hy megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan studeer. Carla is binnekort sak en pak op pad Pretoria toe, waar sy somatologie aan die Isa Carstens Akademie gaan studeer.

“Somatologie is waar my passie lê. Ek en my vriende het ook almal ons akademie baie ernstig opgeneem tydens ons matriekjaar, maar ons elkeen het dit vir onsself laat werk omdat ons elkeen ons eie doelwitte het wat ons wou bereik,” sê Carla.

Carla het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, geskiedenis, Duits tweede addisionele taal, rekeningkunde, inligtingstegnologie, rekenaartoepassingstegnologie en Afrikaans (gevorderde program) behaal.

Carla Botes is kort op haar tweelingbroer, Christiaan, se hakke met 10 onderskeidings. Hulle het aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg gematrikuleer. (Foto: Verskaf)

Die tweeling se raad vir vanjaar se matrieks wat ook hulle oë op goeie punte en selfs onderskeidings het, is om van die begin van die jaar af hard te werk.

“Dit kan jou beslis bevoordeel as jy reeds van die begin van die jaar af tyd maak om agter die boeke te sit, al is daar in ʼn matriekjaar ook baie geleentheid om sosiaal te verkeer,” sê Christiaan.

“Maak ook seker dat jy nie jou portefeuljetake afskeep nie, aangesien dit ook baie bydra tot jou algehele punt en jou help om voor te berei vir die eksamens.”

Carla beaam haar broer se raad. “Goeie tydsbeplanning is ʼn sleutelfaktor. Ek het byvoorbeeld nie my buitemuurse sportaktiwiteite heeltemal laat vaar deur die jaar nie, maar ek het beslis afgeskaal daarmee wanneer dit eksamentyd was sodat ek langer ure kon studeer. Dit is belangrik om te besluit wanneer jy waar die meeste energie moet insit.”

Moet ook nie bang wees om hulp te vra nie, benadruk Carla. “As jy sukkel met ʼn vak of op ʼn emosionele vlak sukkel, vra hulp. Dit is baie belangrik om ʼn gebalanseerde lewe te handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris dupreez ·

Pragtig julle twee, dit wys wat kan gedoen word as jy bereid is om hard te werk,en nie die covid pandemie as n verskoning gebruik nie. Mag julle hope sukses vorentoe hê.

Johan ·

Baie geluk julle twee. Ou Jonathan sal groen van jaloesie wees as hy dit sien.

Jaco ·

Ek kan verkeerd wees maar ek verstaan daar is nog n ouer sussie ook wat laas jaar of die jaar voor dit 11 onderskeidings behaal het, tussen die 3 dink ek het hulle by die 36 A’s

Tipper ·

Baie geluk, goed om dit te hoor, weet nie wat julle toekoms planne is nie nie, maar moet net nie julle tyd mors nie, hier sal julle moeilik reg kom, want die 30% brains sal julle nie toelaat om goeie werk te kry nie.

Treurwilger ·

Veels geluk en welgedaan aan die twee slimkoppe!
Voorspoed en sukses toegewens met verdere studies en die lewe daarna.

Opmerklik hoe kinders oor die algemeen soveel slimmer as dekades gelede is.
A-gemiddeldes en A’s vir afsonderlike vakke was uiters gesog en dun gesaai in die 60’s, 70’s, en selfs so onlangs as die 80’s en 90’s.

Samuel ·

Baie geluk. Mag julle lewens vorentoe ook so voorspoedig wees.

De Wet ·

Baie geluk ! Ek hoop hulle word ook so beloon soos die meisie wat die kar gewen het met minder prestasies as die tweeling .

Carina ·

Baie geluk julle 2, maar dit gaan my verstand te bowe – hoeveel vakke moet jy hê om soveel A’s te kry? Waar kry julle die tyd vir alles?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.