Twee ernstig beseer in middernagtelike bootongeluk

Foto: ER24

Twee mans het ernstige beserings opgedoen toe hulle laat Saterdagaand in ʼn bootongeluk by Maselspoort buite Bloemfontein betrokke was.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê paramedici, saam met lede van die provinsiale nooddienste en die Bloemfonteinse brand-en-reddingsdienste, is net ná middernag na die toneel ontbied. Daar het hulle die boot aangetref waar dit teen ʼn wal langs die Modderrivier vasgedruk was.

“Een van die mans is ʼn paar meter weg van die boot aangetref met vermoedelike kop- en rugbeserings. Hy was in ʼn ernstige toestand toe hy gevind is,” sê Vermaak.

Foto: ER24

Etlike meters weg van die boot af, het paramedici die tweede man aangetref. “Daar word verneem hy het hulp gaan soek toe hy ineengestort het. Hy is ook vir kopbeserings behandel en was in ʼn matige tot ernstige toestand.”

Vermaak sê die man wat verder van die boot af gevind is, moes teen die steil rivierwal uitgedra word. “Onlangse reën en die oneweredige terrein het dit moeilik gemaak om hom uit te dra van waar hy gelê het. Daar word vermoed hy is oor die rivierwal geslinger en het op rotse ver onder die wal te lande gekom.”

Hy sê dit is nie tans duidelik hoe die mans daarin geslaag het om hulp te ontbied nie.

Volgens Vermaak is albei mans na Mediclinic Bloemfontein gehaas. “Die presiese omstandighede van die voorval is nie bekend nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ampie ·

Drank,drank en nogmaals drank. Geen persoon met 2 breinselle gaan in die nag daar met n boot ry. Dis deel van die Modderrivier ook bekend as Mokkiesdam. Hul kan bly wees hul is nie oor die damwal.

Karin ·

Jip, daardie euwel vog laat die bietjie breinselle “strike”, maar van dié vog kry party mense nóóit genog! ?

Thelsa ·

Jy gaan moeilik hierfie een aan Outsurance en Discovery verduidelik

Heidi ·

Aapsap en water nooit n goeie kombinasie nie. Om een of ander rede kry (ongelukkig gewoonlik mans) baie moed om iets roekeloos onnosel dan aan te vang. Hulle kan bly wees hulle het oorleef.

Sê net ·

Die leë bottel Oubees moet daar êrens wees. Nag, donker, koud, dalk met bietjie reën. Regte tyd vir Oubees om uit te help.

Die wiel draai ·

Ek weet dat een van die “manne” grappies gemaak het, toe iemand wat ek ken, dood is in ‘n motorongeluk. Hy het ook spog hoe hy die oorledene ingedoen het met besigheid.
Lyk my die wiel het uiteindelik gedraai. Nee wat, kry maar vir julle..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.