Twee ernstig beseer in Van Reenenspas-ongeluk

Die tenkwa in ligte laaie op die N3 (Foto: Verskaf)

Die twee vragmotorbestuurders wat Woensdag in ʼn ongeluk op die Van Reenenspas in KwaZulu-Natal betrokke was, is in ʼn ernstige toestand hospitaal toe gejaag. Die tenkwa wat ná die ongeluk aan die brand geslaan het, is wel intussen geblus.

Maroela Media het vroeër berig twee vragmotors was net voor 09:00 in die ongeluk op die Van Reenenspas betrokke. Een van die vragmotors was ʼn tenkwa wat ná die ongeluk aan die brand geslaan het. Motoriste is aangeraai om die pas te vermy ná dié groot ongeluk.

Brandweerdienste het net na 10:00 die brand onder beheer gebring.

Verkeer is op die Van Reenenspas opgehoop ná ‘n groot ongeluk (Foto: South African Police Service, Twitter)

Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, sê by paramedici se aankoms op die toneel het hulle die twee vragmotorbestuurders in ʼn ernstige toestand aangetref. Hulle is op die toneel behandel voordat hulle per ambulans na nabygeleë hospitale geneem is.

Volgens die N3-tolpad-konsessie (N3TC) was die noordelike bane by die Tugela Plaza en Tugela East Ramp Plaza Woensdag teen 11:30 steeds vir motoriste gesluit. Die suidelike bane op die Van Reenenspas sal na verwagting binnekort vir motoriste oopgestel word.

Die N3TC het motoriste ook gewaarsku om versigtig in die gebied te ry weens swaar reën wat tot verminderde sig kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cd ·

Jammer vir die wat beseer is.
As daaglikse gebruiker van snelwee sien ek hoe sommige trokbestuurders uiters onverantwoordelik bestuur.
Van die 80 km/h spoedgrens nie eers te praat nie.
Metro-polisie skitter in hul afwesigheid.
Ons as padgebruikers moet maar koes-koes deur die verkeer kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.