Twee Eskom-werkers, trokdrywer vas vir bedrog en diefstal  

(Argieffoto: GCIS)

Verdere ondersoeke na die inhegtenisneming van ʼn vragmotorbestuurder vroeër vandeesmaand het daartoe gelei dat twee Eskom-werknemers ook vasgetrek is.

Lede van die polisie se ekonomiese infrastruktuur- taakspan was op 6 April in die omgewing van die Kendal-kragstasie naby Ogies in Mpumalanga besig met die uitvoering van hul pligte toe hulle ʼn brandstoftenkwa opgemerk het wat die kragstasie verlaat.

Die beamptes het die vragmotor naby ʼn vulstasie in Ogies van die pad af getrek. Daar is vasgestel dat die tenkwa swaar brandstof-olie vervoer. Tydens ondervraging het die bestuurder ’n weegbrugstrokie voorgelê wat die aflewering van die brandstof bevestig.

Die bestuurder is opdrag gegee om terug te gaan na die Kendal-kragstasie waar reëlings getref is om die tenkwa weer te laat weeg. Daar is toe vasgestel dat die volle besending nie afgelaai is nie, wat Eskom ’n verlies van ongeveer R300 000 laat ly het.

Die bestuurder van die vragmotor is hegtenis geneem en van bedrog en diefstal aangekla. Hy is intussen op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat hy op 18 April in die Ogies-landdroshof verskyn het.

Op dieselfde dag as die vragmotorbestuurder se hofverskyning is twee Eskom-aanlegoperateurs van die Kendal-kragstasie ook in hegtenis geneem nadat hulle met die saak verbind is. Hulle sal na verwagting op 24 April om borgtog aansoek doen.

Volgens Eskom is die diefstal van swaar brandstof-olie ’n hoogs georganiseerde kriminele aktiwiteit en word betrokke sindikate verryk deur die opbrengs wat verkry word uit die onwettige handel in die gesteelde produkte.

“Die inhegtenisneming van hierdie individue is ’n belangrike stap in ons stryd teen misdaad in Eskom en die land, en ons sal voortgaan in ons strewe om te verseker dat die oortreders gestraf word,” het adv. Karen Pillay, Eskom se hoofveiligheidsbestuurder, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Die geleentheid is nog daar vir misdaad omdat daar geen optredes teen hulle eie is nie.Daar word mos saam geeet by die trog.

SjN ·

Die vol tenkwa word ingeboek en kastig afgelaai en verlaat die perseel met n vol vrag, daar moet mos verskeie ander mense ook betrokke wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.