Twee familielede glo uit wraak doodgeskiet

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Twee verdagtes is binne 12 ure in hegtenis geneem nadat twee mans in Msinga in KwaZulu-Natal, vermoedelik uit weerwraak doodgeskiet is.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Mbangiseni Gabela (49) het Vrydagmiddag by die Shange-nedersetting by Pomeroy aan ʼn tradisionele stokgeveg deelgeneem en gewen. Sy opponent het die nedersetting verlaat, maar glo later die aand teruggekom en Gabela doodgeskiet.

ʼn Omstander is ook deur ʼn dwaalkoeël gewond en na die hospitaal geneem. Die skieter het gevlug, het Zwane gesê.

“Vanoggend [Saterdag] is ʼn 60-jarige familielid van Mbangiseni, Bonokwakhe Gabela, ook in dieselfde gebied doodgeskiet, vermoedelik ook uit wraak,” het Zwane gesê.

Die polisie het ʼn wenk uit die gemeenskap opgevolg en twee verdagtes is vir die moorde in hegtenis geneem. Volgens Zwane is ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in beide die verdagtes se besit gevind. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit met ander misdade verbind kan word.

Die verdagtes sal Dinsdag in die Pomeroy-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joe Olivier ·

Dit sal hulle nou leer om nie n stok na n vuurwapen geveg te bring nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.