Twee polisiebeamptes is Saterdag in twee voorvalle in Gauteng dood terwyl hulle hul plig uitgevoer het.
ʼn Metropolisiebeampte in Norkempark het na sy bure se huis gehaas toe rowers toegeslaan het. “Hy is noodlottig gewond in die skietery,” het die polisie in ʼn verklaring gesê. “Beamptes het die slagoffer se voertuig en gesteelde ware opgespoor. Vyf van die ses verdagtes is reeds in hegtenis geneem.”
Nog ʼn beampte is Saterdag in Johannesburg doodgeskiet. “Vier gewapende rowers het ʼn vragmotor voorgekeer, wat brood afgelewer het aan verskeie spazawinkels by Jeppe-hostel,” het lt.kol. Katlego Mokgale, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagtes het die deur oopgedwing en ongeveer R1 500 by die bestuurder gesteel.”
Volgens Mokgale kon die bestuurder vlug en hulp ontbied van die Jeppe-polisie terwyl die rowers die agterkant van die vragmotor wou oopbreek om toegang tot die kluis te bekom.
“Beamptes van Cleveland-polisiestasie het ook op die radio-kennisgewing reageer en het by die toneel opgedaag. ʼn Adjudant-offisier van Cleveland-polisie is in sy nek geskiet. Hy is na ʼn hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar,” het hy bygevoeg.
Die polisie is op soek na die verdagtes. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en gewapende roof.
Moord op niekorrupte polisiebeampte = doodstraf.
Daar was 7 verdagtes, 6 mans en 1 vrou. Hulle is almal aangekeer en die beampte was Martiens Bann en dit het in Flamboyant Ave in Edleen plaasgevind.