Twee gesinne dakloos gelaat ná reusebrand

Die vlamme het twee huise in puin gelê en sowat 450 ha kleinhoewes verwoes. Foto: Verskaf

Die landelike gebied by Bultfontein, noord van Pretoria, het Maandagoggend soos ʼn slagveld gelyk nadat ʼn veldbrand gister sowat 50 kleinhoewes in puin gelê.

Tarien Cooks, lid van die Apiesrivier-brandbeskermingsvereniging, beskryf dit as ʼn treurige toneel wat ʼn gebied van sowat 450 ha insluit.

Sy vertel die brand het omstreeks 12:00 ontstaan en inwoners van talle omliggende gemeenskappe, hul brandbeskermingsvereniging en dié van Sinoville asook die Tshwane-brandweer kon dit eers 18:00 onder beheer bring. Die oorsaak van die brand en presies waar dit ontstaan het, is nog onbekend.

“Die toestande was verskriklik uitdagend weens die droë toestande en die sterk, wispelturige wind wat eers dié kant toe en dan daai kant toe waai,” het Cooks Maandagoggend gesê. “Die vlamme het oor vier paaie gespring, wat dit moeilik gemaak het om by die brand uit te kom om dit te probeer blus.”

Twee gesinne is haweloos gelaat toe hul woonplek afgebrand het. ʼn Vrou het tweedegraadse brandwonde aan haar arm en gesig opgedoen en ʼn tienerseun, wat ly aan ʼn harttoestand, is in die Netcare Montana-hospitaal opgeneem vir behandeling vir uitputting.

Cooks loof die gemeenskap en inwoners van omliggende gebiede vir hul samewerking. In ʼn stadium was daar soveel as 50 voertuie op die toneel van mense wat kom hand bysit het. Sy sê hulp kom uit alle oorde vir die mense wat alles in die brand verloor het.

“Die brandgevaar oor die hele Gauteng vir die volgende paar dae is rooi,” waarsku Cooks. “Ons hoop en bid die reën sal kom.”

Enigeen wat die slagoffers wil bystaan, kan die organisasie Outreach Foundation se Jolanda Louwrens by 061 054 4194 of Mara van den Heever by 071 330 3335 bel. So nie kan lesers wat bydraes wil aflewer, dit na Sekelboslaan 95A, Bultfontein, bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vee ·

Kon gister die berg sien brand oor n wye streek oppad na Harties toe. . .
Het sommer so n beklemming beleef om te dink hoeveel skade hieruit gaan kom
Sterkte aan julle!

POP ·

Dit was nie die berg wat gebrand het nie. Dit is op die kleinhoewes tussen Pretoria Noord en Hammanskraal. Dit was baie erg. Simpatie aan die mense. Hulle gaan ook voer vir die diere nodig he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.