Twee geskiet ná roof by hardewarewinkel

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n hardewarewinkel. (Foto: Unsplash)

Die polisie in Limpopo het een vermeende rower doodgeskiet en ’n ander gewond kort nadat dié twee na bewering ’n hardewarewinkel in die Gumbani-nedersetting in die Malamulele-polisiëringsgebied beroof het.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê een van die verdagtes het Woensdag omstreeks 10:00 by die plaaslike hardewarewinkel ingestap onder die voorwendsel dat hy iets wou koop. Hy het skielik ’n vuurwapen uitgepluk en op geld aangedring.

Sy makker het daarna by die winkel ingestap en hulle het die klaer van kontant beroof voordat hulle in die klaer se Toyota Hilux-bakkie op die vlug geslaan het.

Die polisie is ontbied en kon die gesteelde voertuig meer as 20 km verder in die Dzwerani-nedersetting in die Vuwani-polisiëringsgebied opspoor.

Mojapelo sê die verdagtes het nie gehoor gegee toe polisiebeamptes hulle beveel het om stil te hou nie. Die verdagtes het uit die gesteelde motor gespring en te voet op die vlug geslaan terwyl hulle glo skote op die polisiebeamptes afgevuur het.

Die polisiebeamptes het teruggeskiet en een van die verdagtes is doodgeskiet. Die ander verdagte is in die voorval gewond en onder polisiebewaking in ’n hospitaal opgeneem.

Die polisie het op die gesteelde bakkie sowel as ’n 9 mm-pistool beslag gelê. Die vuurwapen is intussen vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal of dit moontlik in enige ander ernstige misdade gebruik is.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zebratjie ·

Sjoe maar die SAPD is vinning om te reageer, maar was ‘no where to be seen’ toe plaasmoeilikheid kom en hulp ontbied is

Samuel ·

Plaasaanvalle is nie dringend vir SAPD nie. Ek hoop net die rowers van hardeware winkel gaan goed gestraf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.