Twee geskiet tydens kapingsvoorval op M1

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn Johannesburgse metropolisiebeampte en nog ʼn persoon is gewond nadat ʼn skietgeveg Donderdagoggend tussen vermeende kapers en die metropolisie op die M1 in Woodmead, noord van Johannesburg, uitgebreek het.

Sr.supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het gesê die kapers het glo probeer om twee vragmotors, wat selfone vervoer het, te kaap. Die polisie het ʼn noodsein van een van die vragmotors ontvang en het die voertuie naby die Buccleuch-wisselaar voorgekeer.

Foto: Emer-G-Med

Foto: Emer-G-Med

“ʼn Skietgeveg het uitgebreek en twee mense is gewond. Een van hulle was ʼn metropolisiebeampte. Hy is tans in ʼn stabiele toestand in die Milpark-hospitaal,” het Minnaar gesê. Hy het gesê twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem en miljoene rande se selfone is teruggevind.

Minnaar kon nie bevestig wie die ander persoon is wat geskiet is nie. Max Cohen, woordvoerder van Emer-G-Med-nooddienste, het gesê een van die vragmotorbestuurders is in die kop geskiet. Volgens Cohen is hy in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas.

ʼn Gedeelte van die M1 is gesluit terwyl die polisie op die toneel besig is.

ʼn Woordvoerder van die SAPD, wat op die toneel was, kon nie meer inligting aan Maroela Media verskaf nie. Die provinsiale SAPD woordvoerder kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

AL ·

Dankie JMPD vir jul manmoedige en uitstekende diens om die kapers vas te vat. Mag die polisiebeampte gou aansterk om by sy gesin te wees.

Annie ·

Skiet op die voet. Tronke is alreeds vol daar is nie meer plek of geld vir hierdie skelm nie!!

Beatrice ·

Dis my pa se broer wat geskiet is, ek is nie lelik nie. Die saak haal nie eens die nuus nie. Dis skandelik wat besig is om in ons land te gebeur. Wa is geregtigheid. En om als te kroon kry sy vrou n hartaanval wnt als is te veel vir haar. Dis n siek land waarin ons lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.