Twee geskok by Eskom-substasie

(Argieffoto: ANA)

Twee mans het Dinsdag elektriese skokke opgedoen terwyl hulle na bewering onwettig aan ʼn Eskom-subkragstasie in Tladi in Soweto gewerk het. Een van die mans is doodgeskok terwyl die ander een ernstige beserings opgedoen het.

Die mans was glo besig om aan die infrastruktuur by dié substasie te peuter. Dit het ook tot gevolg gehad dat die kragtoevoer onderbreek is toe transformators ingegee het weens oorlading op die netwerk.

Eskom het Donderdag in ʼn verklaring sy kommer uitgespreek oor die man wat doodgeskok is by die substasie. Die kragvoorsiener en die polisie is tans besig om die voorval te ondersoek.

Eskom het ook onlangs die inhegtenisneming van vyf lede van die gemeenskap in Orlando-Oos in Soweto aangekondig, nadat hulle glo ook onwettig aan Eskom se infrastruktuur gepeuter het.

Volgens Eskom is misdrywe soos onwettige kragverbindings en die peuter aan elektriese infrastruktuur stadig maar seker besig om toe te neem. Dit is glo die hoofrede vir die langdurige kragonderbrekings wat kragverbruikers tydens die afsonderingstydperk ervaar.

Eskom werk saam met die polisie en ander wetstoepassers om enige onwettige aktiwiteite te bestry.

Eskom maan lede van die publiek aan om nie met die elektrisiteitsnetwerk in te meng nie en enige onwettige aktiwiteite aan te meld by 0800 11 27 22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gato ·

Ja ek dink nie Eskom se skok oor die ou se dood gaan iets beteken nie. Hy moes in die eerste plek nie daar “gewerk” nie dan sou hy nog hier gewees het.
Hulle wou seker die koper kabels uit die plek “uitwerk”

koos10 ·

Onwettig daar gewerk het?????? Ons weet almal watter “werk” hulle gedoen het.

Joggie ·

Ek is geskok dat Eskom nie geskok is dat duur transformators ingegee het nie!

Pappa Beer ·

Ag okei ek gaan dit ook se, dit is skokkende nuus. Hoe moeilik is dit om te verstaan, as dit nie joune is nie, LOS DIT UIT! Dit is skokend dat sommiges nie daardie som verstaan nie.

Francois ·

Gaan kyk. Hulle is nog heel moontlik eskom werkers wat betaal word om onregmatige verbindings te doen

Magda ·

ja almal kry seker maar en of ander tyd n “skok” !!!!!!!!!

Kiewiet ·

Skokend. Nou is eskom in die moelikheid. Moenie laat dit by die pers uitkom nie, asb.

Kiewiet ·

Ek hou veral van die volgend uitlating:- Eskom werk saam met die polisie en ander wetstoepassers om enige onwettige aktiwiteite te bestry. Ek dag al die tyd n mens kan veldbrande, muskiete en goggasBESTRY, Maar diewe?
Enige taalkundige wat die berig lees help my asb. as ek verkeerd is, ek verstaan nie mooi nie.

Megan Swart ·

Dagsê Kiewiet
Dankie vir jou boodskap.
ʼn Mens kan enigiets waarteen jy ʼn stryd voer, oorlog maak teen of beveg, “bestry”.
Só kan mens dus (volgens die HAT) misdaad/vigs bestry, ’n plaag bestry, of selfs ’n foutiewe opvatting bestry.
Jy kan ook selfs die koste van ’n onderneming bestry as jy middele vind om (onkoste) te dek.
“Onwettige aktiwiteit” kan dus beslis, net soos misdaad, “bestry” word.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Oujongvrou ·

Ek dink Eskom is geskok want dis seker n werker van hulle wat daar onwettig besigheid gedoen het

Sune van Heerden ·

Dagsê Pieterbusa

Dankie dat jy ons op die fout gewys het.
Ons vra om verskoning vir die oorsig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.