Twee gesoek oor 13-jarige se verkragting

Argieffoto

Die polisie in Mpumalanga is op soek na twee verdagtes in verband met die verkragting van ʼn 13-jarige meisie.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Saterdag by Saselani Trust in Bosbokrant plaasgevind.

“Die meisie het glo alleen in die straat geloop ná sy by familielede gaan kuier het. Twee mans in ʼn rooi Toyota Tazz het by haar stilgehou. Hulle wou weet waarvandaan sy kom en het toe ʼn vuurwapen op haar gerig, haar gedwing om in die motor te klim en met haar weggery,” het Hlathi verduidelik. Hulle het haar iets gegee om te drink en sy het daarna haar bewussyn verloor.

“Die meisie het wakker geword waar sy in die bosse gelaat is. Sy het hulp gaan soek by ʼn nabygeleë huis en die inwoners het vir haar skuiling gebied en die saak by die polisie aangemeld.”

Sy is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling en daar is bevestig dat sy verkrag is.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het opdrag gegee dat die twee verdagtes vinnig in hegtenis geneem moet word. “Ons doen ʼn beroep op die publiek om met ons hande te vat om geslagsgebaseerde geweld te takel.”

Enigiemand met inligting kan sers. Tsepo Makwela kontak by 072 613 2576 of Crime Stop by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.