Twee getroudes, ma én voormalige ‘Survivor’-wenner onder Mej. SA-finaliste

Die top-30 vroue wat vanjaar om die Mej. SA-titel gaan meeding, is Woensdagaand bekendgemaak. (Foto’s: Verskaf)

Die top-30 vroue wat vanjaar om die Mej. SA-titel gaan meeding, is Woensdagaand bekendgemaak en onder dié finaliste is twee getroude vroue, ʼn ma en selfs ʼn voormalige Survivor SA-wenner.

ʼn Voormalige Mej. SA-finalis, Natasha Joubert, het ook weer haar naam in die hoed gegooi en die top-30 van dié gesogte skoonheidskompetisie gehaal. Joubert het in 2020 derde plek in die Mej. SA-kompetisie gehaal en Suid-Afrika toe by die Mej. Heelal-kompetisie verteenwoordig.

Ook Jordan van der Vyver (2020), Keaoleboga Nkashe (2022) en Melissa Nayimuli (2020) was voorheen onder die top-10 geplaas, terwyl Bryoni Govender in 2018 die top-12 gehaal het.

Dié 30 hoopvolles blyk ’n indrukwekkende en diverse groep te wees en sluit in BCom-, wetenskap- en sielkunde-gegradueerdes sowel as prokureurs, onderwysers, argitektuurstudente, ’n filmmaker en ʼn studentevlieënier.

Maroela Media het vroeër berig dat vanjaar se bygewerkte reëls getroude vroue sowel as ma’s toelaat om in te skryf.

Jordan van der Vyver en Nicole Eksteen, wat in 2021 as die wenner van Survivor SA: Immunity Island gekroon is, is albei getroud, terwyl finalis Rozelle Bester die trotse ma van ʼn vyfjarige seun is.

Gauteng loop voor met nege deelnemers, die Wes-Kaap het vyf, KwaZulu Natal vier, die Oos-Kaap en Noordwes word elk deur drie deelnemers verteenwoordig, die Noord-Kaap en Limpopo het elk twee terwyl Mpumalanga en die Vrystaat elkeen een verteenwoordiger het.

Tien finaliste sal in Junie uit dié groep gekies word wat dan aan die eindronde sal deelneem.

Mej. SA-aanhangers kan vir hul gunsteling op die Mej. SA-app stem en help om hulle in die kompetisie te bevorder. Die stemproses het reeds geopen en sluit om 13:00 op 28 Mei.

Die top-30-finaliste vir Mej. SA is soos volg;

  • Ané Oosthuysen (25) van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek in Gauteng, is ’n laerskoolonderwyser en spog met grade in sielkunde en mediese sosiologie.

Ané Oosthuysen. (Foto: Verskaf)

  • Anelisa Nxele (22) van iNanda naby Durban in KwaZulu-Natal, is ’n model en studeer tans sosiale wetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) met ekonomie as hoofvak.

Anelisa Nxele. (Foto: Verskaf)

  • Angie Mkwanazi (23) van Durban in KwaZulu-Natal, het ’n graad in handel aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf.

Angie Mkwanazi. (Foto: Verskaf)

  • Anke Rothmann (23) is ’n apteker-intern wat die Noord-Kaap verteenwoordig. Sy het haar graad in farmasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom verwerf.

Anke Rothmann. (Foto: Verskaf)

  • Barbara Moagi (22) van Mahikeng in Noordwes, is ’n digitale inhoudskepper en tweedejaarstudent in digitale bemarking by die Vega School in Kaapstad.

Barbara Moagi. (Foto: Verskaf)

  • Bryoni Govender (26) is van Johannesburg en is ’n gekwalifiseerde prokureur wat as ’n leerling-assosiaat werk terwyl sy wag op toelating om ’n prokureur te word.

Bryoni Govender. (Foto: Verskaf)

  • Carmen Barnard (24) verteenwoordig Gauteng. Sy is ’n model, hondeliefhebber en het ’n regsgraad van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

Carmen Barnard. (Foto: Verskaf)

  • Hestie Jooste (25) is van Pretoria in Gauteng en werk as ʼn finansiële adviseur.

Hestie Jooste. (Foto: Verskaf)

  • Homba Mazaleni (23) van Gonubie by Oos-Londen in die Oos-Kaap, is ’n gekwalifiseerde sportwetenskaplike en intern by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

Homba Mazaleni. (Foto: Verskaf)

  • Jordan van der Vyver (27) van Durbanville in die Wes-Kaap, is ’n model en sakevrou. Sy is ook een vanjaar se getroude finaliste.

Jordan van der Vyver. (Foto: Verskaf)

  • Karla Pienaar (23) is van die pragtige Harties-gemeenskap in Noordwes en onderwyser by Hoërskool Hartbeespoort.

Karla Pienaar. (Foto: Verskaf)

  • Keaoleboga Nkashe (27) van Itsoseng in Noordwes, is ’n opvoeder, student en model.

Keaoleboga Nkashe. (Foto: Verskaf)

  • Khanya Desi (22) van Qonce in die Oos-Kaap, is ’n model en het ’n graad in draaiboekskryf van die rolprentakademie Afda.

Khanya Desi. (Foto: Verskaf)

  • Lebohang Raputsoe (24) is van Sharpeville, Vereeniging in Gauteng, en werk as ʼn menslike hulpbronbestuurder.

Lebohang Raputsoe. (Foto: Verskaf)

  • Lerato Maponya (26) is van Johannesburg, Gauteng, maar is in Soweto gebore. Sy het ʼn graad in internasionale betrekkinge aan die Universiteit van Pretoria verwerf en werk tans as ’n menslikehulpbronbestuurder in die nooddiensbedryf.

Lerato Maponya. (Foto: Verskaf)

  • Levern “Donnatella” José (23) van Kimberley in die Noord-Kaap, is ’n kandidaat-eiendomspraktisyn, ’n BCom-regstudent by Eduvos Pretoria en ’n entrepreneur.

Levern “Donnatella” José. (Foto: Verskaf)

  • Lungo Katete (26) van Midrand in Johannesburg, Gauteng, is ’n kreatiewe siel en het haar meestersgraad in argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) voltooi.

Lungo Katete. (Foto: Verskaf)

  • Malandi Marais (21) is van Citrusdal in die Wes-Kaap. Sy het ’n graad in BCom-regte en is tans ’n nagraadse LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Malandi Marais. (Foto: Verskaf)

  • Mbali Mbalu (25) van Mandalay, Mitchells Plain, Kaapstad, is ’n bemarkingsbestuurder en konsultant in die gasvryheid- en vermaaklikheidsbedryf, asook ’n entrepreneur.

Mbali Mbalu. (Foto: Verskaf)

  • Melissa Nayimuli (27) van Butterworth in die Oos-Kaap, is ’n passievolle storieverteller en werk tans as ’n televisie- en filmvervaardiger in Johannesburg.

Melissa Nayimuli. (Foto: Verskaf)

  • Michelle Kruger (28) van Mpumalanga, is ’n kandidaat-prokureur en model.

Michelle Kruger. (Foto: Verskaf)

  • Naledi Mara (23) kom van ’n nedersetting genaamd Seshego in Limpopo. Sy het ’n graad in kriminologie en sielkunde aan die Universiteit van Limpopo verwerf.

Naledi Mara. (Foto: Verskaf)

  • Nande Mabala (25) van Zwelethemba by Worcester in die Wes-Kaap, is ’n model, beïnvloeder, filantroop en ’n BA Kunste-gegradueerde.

Nande Mabala. (Foto: Verskaf)

  • Natasha Joubert (25) van Tshwane in Gauteng, is ’n BCom-bemarkingsbestuur-gegradueerde en is die eienaar en modeontwerper van Natalia Jefferys, ’n maatskappy wat sy begin het toe sy 19 was.

Natasha Joubert. (Foto: Verskaf)

  • Ndyebo Lurayi (26) is van Midrand, Johannesburg, en is die stigter van die sakeondernemings Balleriia en Shot By Yebs. Sy is ook ’n studentevlieënier.

Ndyebo Lurayi. (Foto: Verskaf)

  • Nicole Eksteen (28) is van die pragtige Kaapse Wynland. Sy het ’n honneursgraad in modeontwerp en is tans die projekbestuurder vir ’n ontwerp- en bemarkingsagentskap. Sy is die tweede getroude finalis in vanjaar se kompetisie en het ook in 2021 as die wenner van Survivor SA: Immunity Island

Nicole Eksteen. (Foto: Verskaf)

  • Oreabetse “Rea” Molefe (23) is van Northam, Limpopo. Sy studeer tans internasionale betrekkinge by Unisa en het in 2022 ’n sertifikaat in klimaatsverandering en gesondheid aan die Yale-universiteit voltooi.

Oreabetse ‘Rea’ Molefe. (Foto: Verskaf)

  • Rozelle Bester (27) kom van die Vrystaat en is ’n enkelma wat as verkoopsverteenwoordiger werk. Sy is ook ’n model en grimeerkunstenaar en studeer vir haar baccalaureusgraad in onderwys.

Rozelle Bester. (Foto: Verskaf)

  • Sibusisiwe Zwane (20) van Shelly Beach, Port Shepstone in KwaZulu-Natal, is ’n finalejaarstudent in argitektuur by die UKZN.

Sibusisiwe Zwane. (Foto: Verskaf)

  • Thandolwenkosi Hadebe (22), wat van Bergville in KwaZulu-Natal kom, is ook ʼn Afda-gegradueerde en het onlangs haar honneursstudies in innovasie voltooi.

Thandolwenkosi Hadebe. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Anel ·

Julle sal ‘n ander nadm moet kry wat dié is gin MEJ meer nie. Eintlik maar net ‘n siek storie.

Ronel ·

Duidelik beteken “mej” nie meer wat ons geleer het nie. Nog ‘n “sirkus” eie aan SA – hou verby dankie!

Cindy ·

Elkeen van die dames is beeldskoon. Nuuskierig om te sien watter effek die nuwe bygewerkte reëls op die top 10 sal hê.

Patch ·

Waarom word toegelaat dat getroude vroue vir Mej Suid-Afrika inskryf. Daar is dan ‘n Mev Suid-Afrika kompetisie vir hulle.

Wondermaarnet ·

Daar is baie mooi dames, maar haal photoshop weg en al die grimering dan kyk ons weer.

Annelize ·

Ek het daardie selfde ding gedink. Haal die vals winpers, pruike, haarverlengstukke, overdrawn wenkbroue en tonne grimering af, en selfs ek lyk beter in die oggend, selfs al het ek met die verkeerde voet uit die katel uit opgestaan.

Se maar net ·

Belaglik verby, verander dan die naam gelukkig kyk ek nie sulke snert nie

George ·

So getroudes kan inskryf en al die reels het verander, tog moet jy steeds langer as 1.62 wees om in te skryf. Belaglik. Hulle is wel pragtige dames.

ooknetmens ·

hmmm jy is verkeerd. Ek is ‘n ma en ‘n vrou en het ‘n internasionale werk waar ek soms tot 2x per maand oorsee is. En nee, ek skeep nie my gesin af nie, ek het net ambisie en weet hoe om ma en professioneel te wees op dieselfde tyd.

Racheltjie Debeer ·

Julle sal die naam moet verander. Hoe kan ‘n getroude vrou ‘n ‘mejuffrou’ wees? Daar is mos ‘n Mevrou SA kompetisie.

Samuel ·

As mevrou wen, gaan meneer ‘n jaar lank moet kinders oppas. Dan hoor ons van die afwesige ma.

Marcello ·

Wow !! Hier is pragtige meisies/vroue, en as ‘n mens op skoonheid moet gaan, staan daar ‘n hele paar uit. !!!

Marius ·

Ek was onder die indruk die kompetisie is slegs vir ongetroude vroue en vroue sonder kinders. Het die reels verander?

pamela ·

Die verstaan ek nou nie meer nie. Maar nou ja. Die dames is elkeen regtig baie mooi, maar ek dink die kompetities moes maar gebly het soos dit was. Ek het wel ‘n gunstelling of twee.

bolletjie blom ·

Daar is mos ‘n mev Suid Afrika kompetisie vir die mevroue. Hierdie was al die jare vir jong meisies wat geen verbintenisse gehad het nie. Vreemd hoe die reëls gebuig word sodat dit sekere mense pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.