Twee getuig Zuma het nie vinnig gery voor botsing

Duduzane Zuma in die hof.

Die spoed waarteen Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, op die noodlottige dag gery het toe sy Porsche 911 op die M1-suid teen ’n minibus-taxi gebots het, was Donderdag die fokus van Zuma se verhoor in die Randburgse landdroshof.

Zuma staan tereg op ’n klag van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.

Zuma was op 1 Februarie 2014 omstreeks 21:30 in ’n ongeluk naby die Grayston-afrit betrokke waarin ’n vrou, Phumzile Dube, dood is.

Zuma het in kruisondervraging erken dat hy vroeër getuig het dat hy op die betrokke aand van die ongeluk tussen 90 km/h en 100 km/h gery het wat hy as “redelik” bestempel het gegewe die reënerige omstandighede.

Die staatsaanklaer, Yusuf Baba, wou van Zuma weet waarom sy verklaring aan die assessor, dat hy teen sowat 70 km/h gery het, nie ooreenstem met sy weergawe dat dit tussen 90 km/h en 100 km/h was nie.

Zuma se verdediging het twee getuies geroep wat ook getuig het oor die spoed wat Zuma gery het.

Konrad Lotter.

Konrad Lotter, ’n meganiese ingenieur wat ook as forensiese ingenieur werk op die gebied van rekonstruering van ongelukke en ongelukstonele, het die spoed aan die hand van verskeie faktore bereken en tot die slotsom gekom dat Zuma sowat 87 km/h gery het. Op grond van die berekeninge meen hy kan ook verklaar word waarom die Porsche sowat 50 m noord van die taxi tot stilstand gekom het nadat dit gebots het.

Lotter het getuig dat die taxi en die Porsche min of meer dieselfde spoed gery het en dat die skade aan beide voertuie erger sou wees as die Porsche vinniger gery het.

Hy het ook geargumenteer dat die bande op Zuma se motor breër as die normale was en gevolglik meer geneig is om in waterplasse of poele te gly (oftewel te “aquaplane”) soos wat Zuma se regspan aangevoer het die rede vir die ongeluk was.

Lotter het gesê Zuma het minder as die voorgestelde spoed op die pad gery en die gebeure stem ooreen met sy verduideliking dat hy beheer oor sy motor verloor het nadat dit ’n waterplas getref het. “Die kanse dat die Porsche gegly het in die waterpoel is nie ’n moontlikheid nie, maar eerder ’n waarskynlikheid.”

Duduzane Zuma en sy regspan.

Zuma se regspan het in ’n verrassende wending na middagete ’n “onafhanklike ooggetuie” geroep om ook te getuig.

Michael Jankelowitz, ’n sportmotor-fanatikus, het getuig dat hy die betrokke aand van die ongeluk ook op die M1-suid gery het. Volgens hom het hy baie stadig (sowat 65 km/h) gery omdat dit baie hard gereën het. Hy het in die tweede regterkantse baan gery en ’n Porsche, wat aan die beskrywing van Zuma se motor voldoen, het teen ’n redelike spoed verby hom gery, maar nie “verby gevlieg” nie.

Volgens hom kon hy selfs die registrasienommer van die Porsche sien.

Naby die Grayston-afrit het hy aankomende ligte van voor af gesien. “Ek het geweet ’n motor moes getol het, want ek het dit al voorheen gesien.”

Toe hy naby die voertuig kom, het hy die Porsche in die regterkantste baan gesien. Hy het in sy truspieël die taxi in die heel verste anderkantste baan gesien wat ook in ’n noordelike rigting soos die Porsche gewys het. Hy het mense uit die taxi sien klim, maar nie gedink dat die twee voertuie in dieselfde ongeluk betrokke was nie.

Hy voer aan hy het ook nie gestop nie omdat hy nie gedink het dit is so ernstig nie.

Hy het daarna op Radio 702 van die ongeluk gehoor en ingebel omdat hy gemeen het die beriggewing oor die ongeluk was oordrewe. Die omroeper het glo gesê die Porsche het gejaag en hy het nie daarmee saamgestem nie. Hy dink nie die omroeper het hom geglo nie. Hy het toe niks verder aan die saak gedoen nie hoewel die geregtelike doodsondersoek in 2014 begin het.

Jankelowitz het getuig hy het eers in 2017 weer aan die ongeluk gedink toe hy gehoor het adv. Gerrie Nel gaan Zuma vervolg.

Jankelowitz was van mening dat Nel sy mes vir Zuma in het en dat hy nie ’n regverdige verhoor sou kry nie. Hy het toe met Zuma se regspan kontak gemaak en sy weergawe van die gebeure gegee.

Baba het dit aan Jankelowitz gestel dat hy glad nie in geregtigheid belanggestel het nie, maar eerder in Nel. “Verduidelik andersins waarom jy nie na die polisie gegaan het nie én waarom jy so lank gevat het om na vore te kom?”

Jankelowitz het hierop geantwoord, sy siening was “dat Nel daarop uit is om wraak te neem. Ek wou getuig om te keer dat die persoon (wat die Porsche bestuur het) nie geviktimiseer word nie.”

Die staat en die verdediging het albei hul saak gesluit. Die verhoor is tot 20 Junie uitgestel vir die partye se slotbetoë.

Landdros Tebogo Thupaatlase is op die bank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Genieve ·

Die saak is al so lank aan die gang waar kom die 2 getuies nou vandaan????..skielik

Dekolonisasie ·

N forensiese ondersoek en kameras op snelweg sal maklik spoed bepaal maar hulle wil seker forensiese wetenskap dekoloniseer.

Ooooo....jaa!! ·

ooooohhh…ENNN….NOU…is die veragtelike witvel van SA…OK en GOEDgenoeg om ons,te RED !!!

? leser ·

wat word die 2x gtuienis betaal om nou te lieg, kyk na die skade op die taxi en sy porche en besluit self

Jerry ·

Die feite van die saak is waarop die uitslag sal berus. Die feite van die forensiese ondersoek bewys dat beide die porche en taxi bestuurders nie gejaag het nie en nie die spoedgrens oorskry het nie. Die waarskynlikheid is goed dat die getuies nie lieg nie omrede dit min of meer ooreenstem met die onafhanklike forensiese uitslag. Die kanse lyk uitstekend dat die beskuldigde slegs n opgeskorte vonnis sal kry en dat Nel se reputasie n knou sal kry, want die familie van die oorledene soek geld vir geregtigheid en hulle gaan dit beslis nie by die beskuldigde kry nie!

Ai Ai! ·

Hulle sal dit ook nie van die beskuldigde kry nie, want dit is hoekom die POF daar is.
En Konrad ken sy storie hy doen dit al vir baaaaaaie jare.

Joesef ·

Snaaks hoe al hierdie wat BEE forseer en afdwing nooit van BEE regspanne gebruik maak nie…

B-man ·

Vir aquaplaning om plaas te vind op ‘n geteerde pad, wat ontwerp is daarvoor, moet dit taamlik intens reën. So intens dat die padverbruiker (of redelike persoon wat bestuurslisensie besit) die verantwoordelikheid moet hê om stadiger te ry.

Andersins, is die padeienaar/instansie verantwoordelik vir die toestand van die pad wat aquaplaning laat plaasvind selfs wanneer dit nie hard reën nie.

JG ·

“Geld wat stom is, maak reg wat krom is” – seer sekerlik van toepassing in hierdie geval…

Gert van Wierdapark ·

Dis indrukwekkend dat die ou wat getuig het VIR klein Zuma so flippen goeie waarnemer in die harde reen was! Hy lees en onthou die Porsche se nommer, kon alles beskryf na die ongeluk en wil ook voorkom dat adv Gerrie Nel vir die arme ryk jong entrepreneur “lem”. Jerry se “deskundige”, opsomming is beslis daarop uit om ons gewone ouens te probeer oortuig dat alles pressies gebeur het soos Conrad getuig het. Nie EEN van hulle was daar nie en die Flippen bestuurder het die ongeluk veroorsaak – ten spyte van enige rekonstruksier. Snaaks dat hul nie skielik ook n Los moer aan die stuurmeganisme gekry het nie. Verder laat Ai-Ai se stuiwertjie mens wonder of hy oordeel of veroordeel.? Zuma het die persoon se dood veroorsaak met een van die gevaarikste wapens in SA = ‘n motorvoertuig – “Finish en Klaar”

Antjie ·

“Money talks. It don’t sing and dance and it don’t walk…”

Andile ·

Vra die band vervaardiger oor hul bande se vermoee. Ek is seker die vervaardiger sal bevestig dat die breer bande juis breer gleuwe het om water te verplaas ens. Geen kans dat Porsche geskikte bande so maklik op lae spoed “aquaplane”. Hoe jammerlik is dit dat daar altyd n Afrikaanse man reg is om sy siel te verkoop vir silverstukke.

jAN ·

so die bande was nie die oorspronklike bande waarmee die voertuig uitgekom het n afwyking ,so ver my kennis strek vra versekering ook of die voertuig standaard is en of of daar veranderinge aangebring is… maar zuma jr gaan skotvry kom .

George ·

Almal weet dat ‘n Porsche baie vinnig spoed kan optel op ‘n kort distansie. So, die verbygaan storie klink nie of dit so baie naby aan die ongelukstoneel was nie of hoe?

Jerry ·

Kom ek stel dit eerder so, die oenskynlike geloofwaardige getuienis van die getuies en die forensiese ondersoeker se verslag tel defnitief in die beskuldigde se guns!

Netso ·

Wat van al die goedkoper, eenvoudige en Jan Alleman karretjies wat voor en na die ongeluk jaar in en jaar uit nog nie ge – “aquaplain” het nie.Ek dink Porche moet met bietjie kom vertel hoeveel nonsens hulle opmaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.