Twee gevonnis ná gru-aanval by fabriek

(Argieffoto: Unsplash)

Twee jong mans van Phuthaditjhaba in die Vrystaat is Woensdag elk tot 23 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle hul werkgewer, dié se seun en ’n medewerker verlede jaar onder meer met ’n hamer by hul werkplek aangeval het.

Die slagoffers is só erg in die voorval aangerand dat die werkgewer op die toneel dood is terwyl die medewerker later in ’n hospitaal breindood verklaar is.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, het gesê Thapelo Rathebe (21) en Lehlohonolo Skhosana (24) was op 30 Junie 2019 die enigste werknemers aan diens by ’n fabriek in Phuthaditjhaba, toe hulle hul skof omstreeks 18:00 begin het.

Chen Dai Shu, hul werkgewer, het later die betrokke aand saam met sy seun, Min Yaw Chen, en ’n motorwerktuigkundige, He Yoneping (45), by die fabriek opgedaag.

“Shu wou die beskuldigdes se werk nagaan toe hy met ’n hamer aangeval is. Chen en Yoneping het ’n geraas gehoor en ondersoek ingestel waarna hulle met ’n hamer, mes en panga aangeval is. Chen kon daarin slaag om homself in die stoorkamer toe te sluit maar Yoneping is wreed aangeval.”

Volgens Shuping is Shu op die toneel dood en Yoneping is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Hy is later in die hospitaal breindood verklaar weens die kopbeserings wat hy tydens die aanval opgedoen het.

Rathebe en Skhosana het ná die voorval op die vlug geslaan, maar is twee weke later in ’n informele nedersetting in Germiston aan die Oos-Rand aangekeer.

Rathebe en Skhosana is tot 23 jaar tronkstraf vir moord, agt jaar tronkstraf vir poging tot moord, 12 jaar op elk van die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir poging tot roof gevonnis.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Albei het skuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Die staatsaanklaer adv. Dansi Mpemvane het in die hof aangevoer dat hoewel dit blyk asof die beskuldigdes berou toon aangesien hulle skuldig gepleit het, hulle steeds swaar gestraf behoort te word weens die ernstige aard van die misdaad.

“Om sake te vererger het sommige mense hulle werk verloor aangesien die fabriek moes toemaak ná Shu se dood. Die twee beskuldigdes het die hand gebyt wat hulle gevoer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ElizeK ·

Sal dié vonnis oplegging onthou omdat dit baie interessant sal wees om te sien watter vonnis die 3 wit laaities van Spar Carolina gaan kry. Basies dieselfde tipe aanval en wreedheid, behalwe bogenoemde was swart op chinees met twee gedood en Carolina was wit op swart met een gedood.

richard ·

Kan nie rerig met hulle simpatiseer nie alhoewel ek natuurlik sou hoop dat so iets nie gebeur het nie.
Maar om n mense so wreed aan te val dat hy sterf verdien nie simpatie nie.
Vernaam in die tye wat ons nou leef en die situasie in ons land.
Ek voel saam met hulle gesinne wat nou gaan swaar kry so dit is een van die redes dat ek dalk nie vir hulle jammer kry nie

Nozi ·

Glad nie te bad nie. Op 44 is hul nog bloed jonk en klaar vonnis uitgedien vir moord. Mooi man, ons het ‘n regstelsel en regering waarop ons trots kan wees. Ek wag ook om te kyk hoe reverdig die gereg is met vonnisse. Sal maar sien wat gebeur met die Spar Carolina manne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.