Twee gevonnis ná hul ouma voor kleinkinders verkrag

hof-hamer

Argieffoto

Twee mans is vandeesweek in die Grahamstad-hooggeregshof in die Oos-Kaap skuldig bevind aan die roof en verkragting van ʼn 80-jarige vrou ten aanskoue van haar kleinkinders.

Ao. Moitheri Bojabotseha, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het 3 Desember 2015 om 04:00 die oggend plaasgevind toe twee mans by ʼn huis in die Takalani-nedersetting in Elliot ingebreek en geld geëis het by die bejaarde vrou wat alleen saam met haar twee kleinseuns, onderskeidelik 10 en twee jaar oud, was.

“Die ouma het nie vir hulle geld gegee nie en die een aanvaller het haar met ʼn mes in haar dye gesteek terwyl die ander een haar verkrag het. Die vrou het ten tyde van dié aanval haar 2-jarige kleinseun op haar rug gehad,” het Bojabotseha gesê.

Volgens Bojabotseha het die tweede man ook die vrou seksueel aangerand en toe van die toneel gevlug met kontant wat hulle by die vrou gesteel het.

Die 10-jarige kleinseun kon die aanvallers identifiseer aangesien hulle van dieselfde omgewing afkomstig is.

ʼn Saak van verkragting, huisbraak, diefstal en roof is vir verdere ondersoek aanhangig gemaak by Elliot se polisiestasie. “Albei aanvallers is vasgetrek en die saak is oorgeplaas na die streekshof,” het Bojabotseha gesê.

Volgens hom was die saak vir twee jaar op die hofrol en het adv. Nickey Turner een dag na dié hof gegaan vir administratiewe doeleindes toe sy die bejaarde en die 10-jarige kleinseun in die hof sien sit.

“Sy het ʼn onderhoud met hulle gevoer en toe besluit om die saak self in die Grahamstad-hooggeregshof te vervolg.”

Siphesihle Walaza en Wanda July is 27 Augustus in die Grahamstad-hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis.

Walaza is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir verkragting, 15 jaar vir roof en vyf jaar vir huisbraak. July is tot 12 jaar vir verkragting gevonnis, 10 jaar vir rooftog en vyf jaar vir huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stuiwer ·

Swaarder vonisse moes opgelê geword het. Die regstelsel is uiters swak en beskerm nooit die slagoffer nie.

Sjoe ·

Hemel, dis verskriklik traumaties! Dankie vir Adv. Nickey Turner wat die Ouma en haar kleinkinders gehelp het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.