Twee gevonnis ná meisies se verkragtingshel

Argieffoto.

Twee mans wat twee tienermeisies ontvoer, dae lank aangehou en om die beurt herhaaldelik verkrag het, is in die Secunda-streekshof in Mpumalanga gevonnis.

Morena Khaba (21) en Thulani Khumalo (21) is skuldig bevind op verskeie aanklagte van verkragting, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die aanklagte hou verband met twee voorvalle wat in Januarie 2013 gebeur het.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die twee beskuldigdes het twee tienermeisies van die Standerton-omgewing, onderskeidelik 14 en 15 jaar oud, ontvoer en dae lank in ʼn huis aangehou. “Die hof het gehoor hoe die mans die meisies aangehou, gedwing het om te lê en dan beurte geneem het om hulle te verkrag,” het Nyuswa gesê.

Khaba is ook aangekla in verband met die verkragting van ʼn derde meisie wat hy op 21 Januarie 2013 ontvoer, aangehou en verkrag het totdat hy die volgende dag in hegtenis geneem is. Die polisie het deur een van die bure bewus geword dat Khaba die meisie aanhou en dit het tot sy inhegtenisneming gelei.

Khumalo en Khaba het albei onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle, maar al drie getraumatiseerde slagoffers het in die hof getuig hoe die verkragtings gebeur het. Staatsaanklaer Phumzile Nkosi het ook getuies deur hul getuienis gelei en mediese bewyse ten opsigte van die verkragtings aan die hof voorgelê. Daar was ook DNS-bewyse wat Khaba met die verkragting van die derde slagoffer verbind het.

Die mans is gevolglik skuldig bevind aan al die aanklagte teen hulle.

“Gedurende die vonnisverrigtinge het die hof geen wesenlike of oortuigende redes gevind hoekom daar van die minimum voorgeskrewe vonnis afgewyk moet word nie,” het Nyuswa gesê.

Khumalo is 15 jaar tronkstraf opgelê vir elk van die 11 aanklagte van verkragting en vyf jaar tronkstraf vir ontvoering. Hy sal effektief 20 jaar agter tralies deurbring.

Khaba is lewenslange tronkstraf opgelê vir elk van die 14 aanklagte van verkragting waaraan hy skuldig bevind is, vyf jaar tronkstraf vir elkeen van twee aanklagte van ontvoering en een jaar tronkstraf vir aanranding. Die twee laasgenoemde vonnisse sal gelyklopend met die eerste vonnis uitgedien word. Khaba sal dus effektief ʼn lewenslange vonnis uitdien.

Die NVG het die vonnisse verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ralo ·

goed so. die ouers vam ligtevel, blonde kinders moet asb ekstra paraat wees. daar is n nuwe gier. rape and kill met ligte blonde kinders, kleuters hoog op die lys. oortreders teen kinders moet swaar gestraf word

Katerina ·

Waar hoor jy dit asb? Ek se geensins dis nie waar nie maar ek wil n link vind sodat ek dit in die buitewereld kan plaas op forums.

IK ·

Wat wel waar is en ‘n opskudding veroorsaak het was wat sy, die regter, gesê het.

Sarel ·

Straf is te lig aangesien dit aaneenlopend uitgedien word. In die geval van geweldsmisdaad behoort aaneenlopende vonnis afgeskaf te word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.