Twee gevonnis na moord in Noordwes

(Argieffoto: Unsplash)

Twee mans is Dinsdag aan moord skuldig bevind en swaar gevonnis in die streekshof in Potchefstroom in Noordwes. Dit nadat die liggaam van Tsietsi Mogale (51) verlede jaar met ’n plastieksak om sy kop in ’n watergat in die omgewing gevind is.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het in ’n verklaring gesê Phindile Vis (29) en Vuyisile Mkhalipi (22) is onderskeidelik 30 en 25 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van moord en motordiefstal.

Mogale se liggaam is in Maart 2019 in ’n watergat naby Dassierand in Potchefstroom aangetref. Hy het verskeie beserings aan sy lyf opgedoen en het ’n plastieksak om sy kop gehad.

Volgens Myburgh het ’n voorlopige ondersoek daarop gedui dat die oorledene se BMW vermis word waarna die polisie die twee verdagtes geïdentifiseer het.

“Die polisie het een van die beskuldigdes se huis besoek waar hulle ’n inwoner aangetref het. Dié inwoner het die polisie ingelig dat die beskuldige by die huis uit is met baie bloed op die vloer. Die bloed was reeds skoongemaak,” het Myburgh verduidelik.

Volgens Myburgh is forensiese kundiges onmiddellik na die toneel ontbied om bewyse in te samel. Die polisie in Welkom in die Vrystaat het hulle gekontak terwyl hulle nog op die toneel met die ondersoek besig was.

Hulle het die polisie ingelig dat hulle Mogale se voertuig opgespoor het en twee verdagtes in hegtenis geneem het. Albei het later erken dat hulle die slagoffer met ’n hamer bygedam het voordat hulle sy motor gesteel het om dit te verkoop, het Myburgh gesê.

Vis is tot 20 jaar tronkstraf vir moord en tien jaar vir motordiefstal gevonnis, terwyl Mkhalipi 15 jaar tronkstraf vir moord en tien jaar tronkstraf vir motordiefstal opgelê is.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Die Wolf ·

Sit nou lekker in die Hotel terwyl belastingbetalers moet betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.