Twee gevonnis ná moord op Belgiese sendeling in SA

Eerw. Joseph (Jeff) Hollanders (83).

Twee mans is die afgelope week gevonnis in verband met die moord op eerw. Joseph (Jeff) Hollanders (83).

Hollanders se liggaam is op 13 Januarie 2020 in sy huis op die kerk se perseel in Bodibe, naby Lichtenburg, gevind.

Thabang Maseko (24) en Mongezi Molefe (27) is in die hooggeregshof in Mahikeng gevonnis nadat hulle skuldig bevind is.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het gesê Maseko is tot effektief 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan moord en roof met verswarende omstandighede, terwyl Molefe tot drie jaar direkte tronkstraf gevonnis is nadat hy net aan diefstal skuldig bevind is.

ʼn Derde verdagte wat in verband met die moord in hegtenis geneem is, is onskuldig bevind op die aanklagte teen hom.

Hollanders is vermoedelik die Sondagmiddag in sy huis oorrompel, kort nadat hy van ʼn kerkdiens teruggekeer het. Sy hande en voete was vasgebind, maar daar was geen sigbare beserings aan sy liggaam nie. Hy is verwurg.

Drie verdagtes is twee dae ná die moord in hegtenis geneem nadat Hollanders se selfoon in hul besit gevind is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vroeër gesê dat Maseko ʼn rooftog by die kerk beplan het aangesien hy glo gesien het dat Hollanders geld het. Maseko was glo bekend aan Hollanders.

“Dit is bose mense dié wat ʼn ou, weerlose man aangeval het. Hulle moes geweet het hy het nie geld nie, hy dien arm gemeenskappe. Elke sent wat hy gehad het, het hy vir sy mense gebruik; hy het alles weggegee,” het biskop Victor Phalana, wat die bisdom in dié streek behartig, destyds ná die moord aan Maroela Media gesê.

Phalana het gesê Hollanders het moontlik geglo hy is veilig omdat hy so nou betrokke by die gemeenskappe was. “Hy was deel van mense se lewe. Ons land het ʼn punt bereik waar daar geen respek meer is vir lewe, vir die kerk, of vir ʼn man van God wat oud en weerloos was nie.

“Hy het huwelike voltrek, kinders gedoop en begrafnisse behartig. ʼn Mens wil hê hy moes met meer waardigheid gesterf het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Grassie ·

Ek wonder of die eerwaarde in sy lang lewe ooit een van die peoples werklik kon bekeer. Ek het eendag met ‘n afgetrede sendeling gesels en hy het vir my maar ‘n donker prentjie geskets.

Waarnemer ·

En drie weke later gaan hierdie twee ook saam Shabir en Jacob gholf speel.

Marcello ·

Wow !!! weereens ‘n weerlose oumens…. dit is so hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.