Twee gevonnis ná moord op polisievrou

Argieffoto

Twee mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn vrouepolisiebeampte van KwaZulu-Natal.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê Lucky Masinga (35) en Vincent Zikhali (38) is tot ʼn bykomende 15 jaar tronkstraf gevonnis vir gewapende roof en vyf jaar tronkstraf vir ontvoering in verband met die moord op konst. Senzeni Zibuyisile Msipha (36). Masinga was Msipha se kêrel ten tyde van haar moord.

Siyabinga Khumalo (29) dien reeds tronkstraf van 39 jaar uit in verband met die moord nadat hy in April 2018 skuld beken het.

Msipha, wat by die Mtunzini-polisiestasie gevestig was, was nie aan diens toe sy vermoor is nie. Polisiebeamptes van Nyoni het die aand van 31 Januarie 2018 reageer op ʼn voorval langs die P266-pad.

“Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn motor wat aan die brand gesteek is, opgemerk. Die bestuurder het onherkenbaar verkool,” het Zwane gesê en bygevoeg ʼn saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.

Die polisie in Gingindlovu het intussen ʼn saak van ʼn vermiste persoon ondersoek nadat konst. Msipha verdwyn het. Sy is die laaste keer saam met haar kêrel gesien en het nie weer teruggekeer huis toe nie.

Verdere ondersoek het bevestig dit was Msipha se liggaam wat in die motor gevind is. Msipha se kêrel en twee van sy vriende is in hegtenis geneem in verband met haar moord.

In die ondersoek is vasgestel Msipha is vermoor voor haar liggaam in haar motor aan die brand gesteek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.