Twee gevonnis oor Alexandria-boer se moord

Riaan Scheepers (Foto: Verskaf)

Die provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap het die vonnisse van die twee beskuldigdes in verband met Riaan Scheepers se moord verwelkom.

Bulelani Bafo Zozi (21) en Siphamandla Petse (24) het op 25 November 2017 Scheepers se huis op ʼn plaas in Alexandria betree en hom aangerand. Hulle het sy vuurwapen en bakkie gesteel en van die toneel gevlug.

Scheepers het op 19 Desember aan sy beserings beswyk.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het bevestig uitspraak is Vrydag in die Grahamstadse hooggeregshof gelewer. Regter Clive Plasket het die beskuldigdes elk tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van huisbraak, 15 jaar op aanklag van roof met verswarende omstandighede, lewenslange tronkstraf op aanklag van moord, vyf jaar op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en twee jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

“Dankie aan die gemeenskap en elkeen wat ʼn bydrae gelewer het om die oortreders aan te keer,” het lt.genl. Ntshinga gesê. “Die ondersoekspan het inligting uit verskeie oorde gekry en elke wenk is opgevolg.”

Plasket het tydens sy uitspraak gesê die aanval was uiters gewelddadig en albei beskuldigdes het aan die aanval deelgeneem. “Die rooftog en aanval is goed beplan. Die huis is vir lank dopgehou totdat die geleentheid hom voorgedoen het om toe te slaan. Die slagoffer is in die veiligheid van sy huis aangeval en gegewe sy ouderdom en gestremdheid weens ʼn ongeluk ʼn paar jaar gelede, het hy bykans geen kans gehad om van sy aanvallers te vlug nie.”

Die beskuldigdes het skuld beken op vier van die aanklagte maar het nie enige berou getoon vir hul dade nie.

Riaan Scheepers by sy drie kinders, Bianca, Simone en Christo (Foto: Verskaf)

Plasket het gesê Scheepers was ʼn enkelouer ná sy vrou ʼn paar jaar gelede gesterf het. “Hy was ook ʼn steunpilaar van die gemeenskap en het gedien as voorsitter van die plaaslike ouetehuis, tesourier van die plaaslike boerevereniging en het gedien op sy kerkraad. Sy afsterwe het ʼn groot impak gehad op sy familie, die gemeenskap en sy werknemers.”

Die beskuldigdes het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die lewenslange vonnis. Plasket het egter gesê ʼn ander hof sal nie tot ʼn ander gevolgtrekking kom nie, en hul aansoek het dus geen vooruitsig op sukses nie. Die aansoek om verlof tot appèl is van die hand gewys.

Alfonso van Niekerk, voorsitter vir landelike veiligheid vir Agri Oos-Kaap, het gesê geregtigheid het geseëvier en dat die familie uiteindelik berusting kan kry.

Agri Oos-Kaap het Port Alfred-polisiebevelvoerder brig. Morgan Govender, kapt. Mali Govender, SAPD-hoofondersoekbeampte Leon Els (wat intussen afgetree het), sers. Bakkes en konst. Gxogxo (wat die ondersoek oorgeneem het en die res van die span ondersoekbeamptes en die span van die nasionale vervolgingsgesag, onder leiding van adv. Obermeyer, bedank vir hul uitstekende werk en deursettingsvermoë om die oortreders suksesvol te vervolg.

Lees alle vorige berigte oor Riaan Scheepers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

leser ·

dit slaan my dronk, waarom sal die vonnisse altyd gelyklopend uitgedien word?

Corné ·

Dink so daaraan.
Lewenslank gekry vir moord is lewenslank tot die persoon in die tronk doodgaan(hopelik). Nou is daar addisionele 2, 5 en 15 jaar. Daarom dat dit gelyklopend uitgedien word.

Essie ·

Ek sê stel die doodstraf weer terug dan sal onnodoge moorde end kry

Gert ·

Doodstraf moet weer terugkom saam met lyfstraf dan sal misdaad afneem want dan kry die krimineel seer

Lana ·

Baie goeie werk SAPD. Goeie vonnis regter Plasket.
Wens alle soortgelyke sake kan binne ‘n jaar afgehandel word, soos hier die geval is.

Elvira ·

Baie dankie aan die gemeenskap wat bygedra het om die moordenaars op te spoor. Baie dankie aan die polisie vir hulle harde werk en dankie aan die regter vir die weiering om die vonnisse te verlig en die uitspraak.

Theo ·

Wat ek graag wil hoor of lees, wat het van die drie kinders geword. Het hulle fondse om te oorleef ? Of boer die seun?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.