Twee gevonnis oor bevelvoerder se moord

Argieffoto

Twee mense, onder wie ʼn voormalige polisielid, is gevonnis in verband met die moord op lt.kol. Nomalizo Dukumbana, stasiebevelvoerder van die Elliotdale-polisiestasie in die Oos-Kaap, wat in 2013 by haar huis in Port Elizabeth vermoor is.

Phumzile Ngqayimbana (46), ʼn voormalige adjudantoffisier, en Siyamcela Ntshitshi (37) het hul lot in die hooggeregshof in Mthatha aangehoor.

Luxolo Tyali, streekswoordvoerder vir die direkteur vir openbare vervolging in Mthatha, het gesê die twee mans is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. “Adjunkregterpresident Zamani Ntlangulela, het die twee mans ook tot ses jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van die besit van ʼn vuurwapen met die doel om ʼn misdaad te pleeg. Hulle is ook tot drie jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van die besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Dukumbana is op 17 Desember 2013 binne die Elliotdale-polisiebarakke doodgeskiet nadat die twee mans haar oorval het toe sy van die werk af teruggekom het. Ngqayimbana, wat as ʼn adjudant-offisier by die stasie gewerk het, was glo nie tevrede met haar bestuurstyl nie, nadat sy tugstappe teen hom ingestel het.

Ngqayimbana het beweer dat hy deur Dukumbana geteiken is omdat hy nie op ʼn rooftog by ʼn plaaslike Spar gereageer het wat deur ʼn veiligheidswag aangemeld is nie. Verskeie ander klagte is glo ook teen Ngqayimbana aanhangig gemaak waarna die dissiplinêre proses teen hom sou begin het.

Hy het Ntshitshi gevra om hom te help om Dukumbana te vermoor. “In die dae voor 17 Desember is daar ʼn paar keer gepoog om haar te vermoor. Sy het die voorvalle by die owerhede en die polisie aangemeld.”

Ngqayimbana het ook met sy kollega en vriend, konstabel Noxolo Matya, saamgesweer om hom te help om inligting te kry oor Dukumbana se bewegings op die dag van haar moord. Matya, wat skuld beken het oor haar rol in die mord, is reeds in September 2014 tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Matya was die aand van die moord aan diens by die stasie en het boodskappe aan die moordenaars gestuur en hulle in kennis gestel dat Dukumbana op pad na haar blyplek is, het Tyali bygevoeg. Dukumbana is gevolglik doodgeskiet net voor sy die deur na haar blyplek kon oopmaak.

Die twee mans het tydens hul verhoor skuld ontken, maar senior staatsadvokaat Mduduzi Mzila het die getuienis van Sipho Makhabeni, ʼn staatsgetuie, gelei kragtens artikel 204 van die Strafproseswet.

Maroela Media het vroeër berig Dukumbana is van agter geskiet toe sy van die werk af by die huis aangekom het. Sy is op die toneel dood. Ooggetuies in die gebied het destyds aan die polisie gesê hulle het gesien hoe twee mense weghardloop van die toneel. Dukumbana het langer as 30 jaar in die polisie gedien en was van 2009 die stasiebevelvoerder van Elliotdale.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

D V ·

Dit gaan my verstand te bowe dat ‘n polisie ‘n mede wrrkgewer so koelbloedig van agter kan skied en sy lewe opmors.

Chris Ws ·

Ek verstaan nie die vonnisse wat gelyklopend uitgedien word nie.Met anderwoorde daai vonnisse hoef nie eers gevel gewees het nie!Die regstelsel in hierdie land is belaglik!

Frans ·

Al hierdie vonnisse wat “gelykopend” uitgedien word, is om die publiek onder die indruk te bring dat “gereg” geskied het. Dit is eintlik ‘n beledeging om te dink dat ons as die publiek dit so moet “verstaan”. Ons is nie onnosel nie, maar dit word blykbaar “aanvaar” dat ons onnosel “bevind” word om sulke uitsprake as “geregtigheid” te beskou. Ons geregstelsel is nie konsekwent nie. Verder wil ek nie eens oor die “geregstelsel” uitbrei nie. Hulle bewys hulle eie tekortkominge deur hulle uitsprake.

Lerato ·

Iemand kry lewenslank, maar as gevolg van “goeie gedrag” dien slegs n klein gedeelte uit.

Wat n klug!!!!

lee ·

Die een skuldige is minder as ‘n jaar (9 mnde) na haar dood reeds gevonnis.
Die ander 2 se saak het feitlik 5 jaar (4 jr en 6mnde) geneem om af te handel.
BELAGLIK !!!! tydrowend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.