Twee gevonnis oor GPF-lid se dood

Deswyn Kleinbooi en Eston Afrikaner (Foto: Skermgreep uit ANA-video)

Deswyn Kleinbooi (22) en Eston Afrikaner (19) is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth gevonnis op aanklag van die moord van ʼn stigterslid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum.

Kleinbooi en Afrikaner is albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die “koelbloedige moord” op “kaptein” Naeem Desai in 2016. Kleinbooi is skuldig bevind op aanklag van moord en roof met verswarende omstandighede, maar vrygespreek op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Afrikaner is skuldig bevind op alle aanklagte teen hom.

Nadat Afrikaner tot lewenslange tronkstraf gevonnis is en die hof verlaat het, het hy sy middelvinger vir die publiek in die galery gewys.

Regter Dayalin Chetty het in sy uitspraak gesê die moord is as gevolg van “geldgierigheid, gedryf deur onvolwssenheid”. Hy het gesê Desai is tereggestel deur jong mans wat nie geweet het wat hy in sy besit gehad het nie. “En tog is hy doodgeskiet met die hoop dat hulle uit sy dood sou kon voordeel trek.”

Hy het gesê Afrikaner het ʼn leidende rol gespeel in Desai se moord.

Desai, van Jadeeds Bakery, het in Mei 2016 brood afgelewer in Helenvale toe hy in sy vragmotor in Fitchardstraat doodgeskiet is. Hy was die stigterslid van die Malabar Patrols-polisiëringsforum en het daagliks na Helenvale gereis om sake te doen vir sy broer se bakkery.

Chetty het verduidelik watter groot impak Desai se afsterwe op sy gesin gehad het, soos sy vrou Amiena tydens die hofsaak getuig het. “Sy dood het ʼn groot gaping gelaat, nie net in die GPF nie, maar ook in die groter gemeenskap.”

Amiena is dankbaar oor die uitspraak en het gehuil van verligting toe die twee gevonnis is. “Niks sal hom terugbring nie, maar ten minste is hierdie geregtigheid,” het sy ná die uitspraak gesê.

Chetty het die twee se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.