Twee gevonnis vir aanval op bekende Stellenbosch-plaas

Raymond O’Grady (Foto: www.hillcrestberries.co.za)

Twee mans wat verlede jaar die eienaar en sy vrou van die bekende Hillcrest Berry Farm digby Stellenbosch aangeval en beroof het, is 23 jaar tronkstraf opgelê. Die eienaar se vrou is boonop deur die verdagtes ontvoer, maar kon daarin slaag om weg te kom.

Maroela Media het vroeër berig Raymond O’Grady (77) en sy vrou, Betty (72), is op 21 Augustus omstreeks 07:20 in hul plaashuis deur drie mans oorval en aangerand.

Raymond is vyf keer tydens die aanval met ʼn mes gesteek. Hy is ná die aanval in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal in Stellenbosch gehaas, waar hy in die intensiewesorgeenheid behandeling ontvang het. Hy is ʼn paar dae later ontslaan.

Die verdagtes het Betty agter die stuurwiel van die egpaar se dubbelkajuit-Toyota-bakkie ingedwing en aangesê om te ry. Die aanvallers het klaarblyklik gedink hulle word agtervolg en het Betty opdrag gegee om stil te hou. Hulle het gevlug en Betty het dadelik teruggejaag plaas toe.

Drie mans is vier dae ná die aanval in hegtenis geneem. Die saak teen een van hulle is intussen laat vaar omdat hy nie met die voorval verbind kon word nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het bevestig dat Manilisi Sphuhle (26) en Luthando Ngam (31) vroeër die maand skuldig bevind is op aanklag van roof met verswarende omstandighede en poging tot moord.

Hulle is in die streekhof in Stellenbosch tot 23 jaar tronkstraf elk gevonnis. Hulle is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Ivan Meyer, LUR vir landbou, het die vonnis verwelkom. Hy het ook die polisie en NVG bedank vir hul harde werk om te verseker dat geregtigheid geskied het.

“Hierdie vonnis is ʼn waarskuwing dat diegene wat ons boerderygemeenskap aanval, swaar gestraf sal word,” sê Meyer.

Landelike veiligheid is volgens Meyer ʼn groot prioriteit vir die Wes-Kaapse regering. Hy sê ʼn aanval op die plaasgemeenskap is ʼn aanval op die landelike ekonomie.

Die Hillcrest Berry Farm is in die Kaapse Wynlandgebied geleë, ʼn streek waar soveel as 60% van die inkomste uit boerdery kom. Dit is ook die belangrikste landbougebied in die provinsie, wat 33,5% van die provinsiale se landbou-bruto waardetoevoeging (GVA) uitmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Onbevoeg om wapen te besit? Sluit dit mes en enige skerp voorwerp in

Dries

Onbevoeg verklaar om n wapen te besit. Waar kom dit vandaan ??? Het hulle mis geskiet ???

Maggies

Mooi. Solank hulle nie oor ‘n paar jaar op borgtog uitkom nie.

Elize

My hart is nog baie seer oor hierdie boer. Ek wens net mens kan soms die redes aanhoor wat hulle aanvoer.

JM

Hierdie aanvallers is in hul psige verrot tot op die been. Mag hulle nooit uit die tronk kom nie, want hulle sal dit wéér doen.