Twee gevonnis vir drie wrede moorde

hof-hamer

Argieffoto

Twee mans is Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir drie wrede moorde in September 2017.

Mbuyiseli Pikoli (39) en Vuyani Sifunda (24) is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir huisbraak met die doel om te roof, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, agt jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Dié vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnisse uitgedien word en die twee sal effektief drie lewenslange vonnisse in die tronk uitdien.

Die twee is gevonnis vir die wrede moorde op Elaine Allwright (78) en haar lewensmaat, Ken Alexander (76), asook die moord op Tyrone Plaatjies (49).

Plaatjies is op 23 September 2017 op die terrein van die Forest Hill-begraafplaas in Schoenmakerskop vermoor. Hy is met ʼn hamer doodgeslaan terwyl hy en ʼn vriend in ʼn woonwa gelê en slaap het en deur twee mans oorval is. Die aanvallers het met R50, ʼn selfoon en Plaatjies se voertuig op die vlug geslaan. Plaatjies het op pad na ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk.

Alexander en Allwright is op 25 September 2017 wreed in hul huis in Schoenmakerskop aangeval. Alexander is tydens die aanval met ʼn hamer doodgeslaan. Allwright is erg aangerand tydens die aanval en in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem waar sy ʼn paar dae later dood is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het gesê deeglike ondersoekwerk het Pikoli en Sifunda deur middel van DNS met die misdaadtonele verbind.

Sifunda is op 25 Oktober 2017 by die landdroshof in Paterson in hegtenis geneem waar hy op ʼn aanklag van huisbraak verskyn het. Pikoli was reeds in aanhouding in die Kirkwood-gevangenis toe die aanklagte van moord teen hom aanhangig gemaak is.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekbeamptes geloof vir hul deeglike ondersoek. “Dit is altyd baie uitdagend om ʼn saak op te los wanneer daar geen ooggetuies is nie. Die beamptes word dus geprys vir hul meedoënlose pogings om die twee sake met die beskuldigdes te verbind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Ek stem 100% saam met jou Elsie. Tronke is propvol van hulle en op belastingbetaler se onkoste.

Cherokee ·

Watter is die langer vonnis? 22 Jaar of lewenslank? Packham moes ook lewenslank gekry het, tensy 22 jaar langer is. Want ‘lewenslank’ is mos nie so lank soos dit sê.

Prikkie ·

Die moordenaars mag nie die doodstraf opgelê word nie, want volgens die Grondwet het hulle ‘n reg op lewe.

Nou is my vraag, het die vermoordes dan nie ook ‘n reg op lewe gehad nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.